Rasseklassifikasie by universiteite onder die loep in AfriForum Jeug-verslag
AfriForum Jeug het vandag ’n omvattende verslag bekend gestel oor die stand van nierassigheid by 26 openbare Suid-Afrikaanse universiteite.
The status of non-racialism at South African Universities is saamgestel nadat ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) in Maart aan die onderskeie universiteite gestuur is om inligting te bekom oor rasseklassifikasie by hierdie instellings. AfriForum Jeug is sterk gekant teen rasseklassifikasie en is van mening dat studente op meriete gekeur moet word en nie volgens ras nie.
AfriForum het ook vroeër vanjaar in ’n verslag oor raswetgewing bevind dat daar meer as 132 rasgebaseerde wette in Suid-Afrika is waarvan 116 ná 1994 gepromulgeer is. Universiteite is een van die prominentste plekke waar mense met rasregulasies gekonfronteer word en studente wat jare ná die einde van die vorige bedeling gebore is, word steeds gedwing om hulself volgens ras te klassifiseer.
Volgens Arno Roodt, mede-outeur van die verslag en kandidaatprokureur by Hurter & Spies Ing., word individue en minderheidsgroepe versmoor deur raswetgewing en speel mense se velkleur met hierdie soort wetgewing ’n groter rol as hul karakter. Daar moet besef word dat die foute van die verlede nie reggemaak kan word met dieselfde metodes wat dit in die eerste plek veroorsaak het nie, sê Roodt.
Die verslag het die volgende ondersoek: Die vereiste van rasseklassifikasie in universiteitsaansoeke; die gevolge indien aansoekers weier om hul ras te openbaar; die onderskeie beleide of prosedures wat gebruik word om ras mee te bepaal; die aantal beleidsdokumente wat na ras verwys; en universiteite se standpunte oor die grondwetlike waardes van nierassigheid en gelykheid.
Luidens dié verslag moet almal wat aansoek doen by die universiteite hul rasse-identiteit bekend maak anders word die aansoek as onvolledig beskou. Diegene wat byvoorbeeld by die Universiteit van Zoeloeland aansoek doen, kan wel kies om eerder hul ras as “ander” te lys.
“Dit is skokkend dat al 26 universiteite studente vra om hulself volgens ras te klassifiseer. Van die redes wat hulle aanvoer is dat dit vir statistiese doeleiendes is of vir die bevordering van gelykheid. Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) maak staat op befondsing van die regering en sê dit is waarom hulle die rassesamestelling moet hê,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.
Alhoewel baie universiteite sê hulle is voorstanders van nierassigheid, is rasseklassifikasie tog verpligtend. In die PAIA-aansoek is daar ook gevra hoe die universiteite die rasseklassifisering van studente kan regverdig in die lig van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat nierassigheid en gelykheid hoog op prys stel. Die Universiteit van die Witwatersrand het hierop geantwoord dat hulle onderhewig is aan die Departement van Hoër Onderwys se vereistes om transformasie te verseker om vorige diskriminasie reg te stel.
Wat die universiteite se beleidsdokumente betref het die Universiteit Stellenbosch 17 verskillende rasbeleide, die Noordwes-Universiteit 15 en die Universiteit van Pretoria tien.
AfriForum Jeug ontvang ook gereeld klagtes van studente wat in openbare universiteite weens hul ras uitgesluit of teen gediskrimineer word. Die organisasie meen die huidige politieke klimaat in die land skep die perfekte omstandige vir rassisme om hoogty te vier. AfriForum Jeug beklemtoon daarom dat universiteite ’n nuwe en nierassige aanslag moet inneem sodat daar nie teen minderheidsgroepe en individue gediskrimineer word nie.
Met die bevindinge van die verslag eis AfriForum Jeug dat rasseklassifikasie geheel en al afgeskaf word, dat nierassigheid ononderhandelbaar is en dat nierassigheid as die hoeksteen van Suid-Afrika se demokrasie erken moet word.
“Rasseklassifikasie skep inderwaarheid die geleentheid vir rassediskriminasie. Dit is nodig om te herbesin oor rasseklassifikasie in die Suid-Afrikaanse konteks,” sê Roodt.
Lees die volledige verslag hier.