|

Randwater en Govan Mbeki-munisipaliteit hou gemeenskap in donker oor werklike probleme met water

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om verder ondersoek in te stel na Randwater se optrede wat aanleiding gegee het tot watertekorte wat nou al vir meer as 20 dae in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit heers.

Die organisasie meen dat hy tot dusver alle moontlike stappe gedoen het om inligting en samewerking vanaf Randwater en die munisipaliteit te kry, maar beide dié partye wil nie meer duidelikheid gee oor die werklike omstandighede nie. Volgens die Govan Mbeki-munisipaliteit word die water verminder “weens tegniese foute”, maar daar word nie meer duidelikheid verskaf oor die aard van hierdie tegniese foute en waarom dit ná 20 dae steeds nie opgelos is nie.

AfriForum eis dat Randwater en Govan Mbeki-munisipaliteit duidelike antwoorde gee oor die probleme wat die entiteite in die gesig staar. Die moontlikheid dat Randwater die waterdruk verminder weens die munisipaliteit se wanbetaling is steeds ’n realiteit en daarom dring AfriForum aan op reguit antwoorde.

Die organisasie sê dat hy duidelike antwoorde op Maandag, 21 Oktober, moet ontvang anders sal die organisasie verdere stappe doen.

“Ons sal die stryd voortsit teen Randwater en die Govan Mbeki-munisipaliteit wat betalende gemeenskapslede benadeel. AfriForum sal ook voortgaan om so ver moontlik verligting aan gemeenskappe te bring met ons noodwaterpunte in dorpe soos Bethal. Ons het in 2024 saam met boere, wat die gemeenskap se belange op die hart dra, reeds meer as 1.5 miljoen liter water aan die gemeenskap gelewer teen geen koste nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings