|

Rand Water: Steeds geen antwoorde oor droë krane in Govan Mbeki-munisipaliteit

Gemeenskappe in die Govan Mbeki-munisipaliteit het ná meer as ’n maand steeds geen water nie en Rand Water swyg steeds oor die rede hiervoor. Volgens AfriForum is dit kommerwekkend dat Rand Water, wie se basiese funksie is om water aan munisipaliteite te lewer, nie weet waarom hulle nié hierdie funksie kan vervul nie.

Die burgerregteorganisasie het op 18 Oktober ’n skrywe aan Rand Water gerig om antwoorde te kry en slegs ’n vae, onvolledige antwoord terug ontvang wat die organisasie eenvoudig terugverwys het na die munisipaliteit. Die munisipaliteit het egter ook nie antwoorde verskaf nie.

Op 21 Oktober het AfriForum nóg ’n skrywe gerig in ’n poging om antwoorde te kry, Rand Water het uitstel gevra en ook hul tweede sperdatum misgeloop.

“Die vraag wat ons aan Rand Water stel is eenvoudig – waarom is daar nie water nie? Die feit dat Rand Water nie hierdie eenvoudige vraag kan beantwoord nie bevestig net dat daar ’n groter probleem is as net tegniese probleme. Ons kan nie anders as om te wonder of Rand Water dalk besig is om onskuldige inwoners se watertoevoer as hefboom te gebruik om die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit te dwing om hul agterstallige rekeninge te vereffen nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Indien dit wel die geval is dat Rand Water die waterdruk verlaag of in sy geheel afsny is dié optrede nie net onredelik nie, maar ook onwettig. “Ons ontken nie dat die munisipaliteite miljarde rande se agterstallige skuld het nie, maar verbruikers wat getrou hulle munisipale rekeninge betaal mag nie gestraf word nie. Daar is prosesse wat ingevolge die Wet op Interowerheidsverhoudinge gevolg moet word,” voeg Bekker by.

Volgens Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is hierdie sukkelende probleem tussen Rand Water en die munisipaliteit die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se probleem. “Die feit dat inwoners al vir meer as ’n maand sonder water sit moes al reaksie vanaf die premier en die LUR vir dié departement in die provinsie gekry het, maar dit wil voorkom of hulle gemaklik is daarmee om net met gevoude hande te sit en toekyk hoe die gemeenskap sukkel.”

Ongeag politici en amptenare se versuim om hul werk te doen gaan AfriForum voort om met hul regspan te konsulteer en hou AfriForum en boere van die gemeenskap noodwaterpunte se tenks vol. Hierdie samewerking tussen AfriForum en boere het al reeds toegesien dat 1.6 miljoen liter water aan die gemeenskap voorsien is in tye van water tekorte.

Soortgelyke plasings