Ramokgopa se ingryping by City Power-geskil beklemtoon Lesufi se mislukkings; AfriForum tree toe tot litigasieproses in Johannesburg
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van Elektrisiteit, se ingryping by die Eskom-City Power-geskil vandeesweek is net nóg ’n bewys van Panyaza Lesufi se mislukking as premier van Gauteng, meen AfriForum. Ramokgopa se suksesvolle toetrede om die geskil te beredder waarin Eskom gedreig het om kragtoevoer na Johannesburg af te sny weens die stadbeheerde kragvoorsiener se agterstallige skuld, beklemtoon boonop Lesufi se onvermoë om sy grondwetlike verpligtinge na te kom deur onder meer die implementering van hoofstuk 3 van die Grondwet te verseker.
Ramokgopa se toetrede tot die geskil volg nadat Eskom op 7 November ’n kennisgewing aan die Johannesburg-metro en City Power uitgereik het waarin sy voorneme om die kragtoevoer na die metro te sny, bekend gemaak is. Die stad se skuld beloop volgens Eskom tans reeds R4,9 miljard, met R1,4 miljard hiervan wat teen die einde van November betaalbaar is. Danksy die minister se intervensie is eerstens verseker dat kragtoevoer nie afgesny sal word nie, en tweedens dat onafhanklike tegnici, in samewerking met City Power en Eskom, ’n bepaling van die ware omvang van die stad se kragskuld kan maak.
Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, beklemtoon dat Ramokgopa se betrokkenheid en toetrede, die wanadministrasie onder Lesufi in die provinsiale regering blootlê. “Lesufi se onvermoë om Gauteng se munisipaliteite, veral Johannesburg, te bestuur, is ’n ooglopende mislukking. Die Grondwet en ander relevante wetgewing vereis dat provinsiale leierskap stabiele en doeltreffende bestuur verseker. Waar dit nie die geval is nie, moet die premier ingryp. Die feit dat ’n nasionale minister moes ingryp, is ’n klad teen Lesufi se naam en toon ’n ernstige gebrek aan verantwoordbaarheid.”
AfriForum het intussen ook vandag sy regspan opdrag gegee om toe te tree tot die litigasieproses en alle relevante inligting rakende die invordering van die Johannesburg-metro se agterstallige skuld, van Eskom aan te vra. Hierdie inligting is van kritieke belang om te bepaal wat Eskom se skuldinvorderingstrategie is en wat die metro se finansiële stand is.
“AfriForum verwelkom die tydelike verligting, maar ons kan die breër kwessie van verantwoordbaarheid nie langer ignoreer nie,” sluit Mostert af.