Publiek moet help om Malema en EFF voor stok te kry


AfriSake en AfriForum het ’n interdik teen die EFF en Julius Malema, die party se omstrede leier, bekom om te verhoed dat hulle mense aanhits om grond onwettig op 6 April 2017 te beset. Daar bestaan tans baie onsekerheid oor of grondgrype wel môre gaan plaasvind.
Daarom wil AfriSake en AfriForum ’n beroep op die publiek doen om dié organisasies in kennis te stel van enige EFF-lede wat hulself aan die verontagsaming van die hofbevel skuldig maak.

“Ons vra die publiek om asseblief enige duidelike foto’s en verkieslik goeie beeldmateriaal aan ons deur te stuur indien lede van die EFF of Julius Malema hulle skuldig maak aan aanhitsing om grond te beset. Selfs uitlatings op sosiale media is van belang om ’n minagtingsaansoek teen die betrokke partye te loods,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van AfriSake.

AfriSake en AfriForum sal ook grondeienaars wat op dié dag onder onwettige grondgrype deurloop, probeer bystaan. Grondeienaars moet egter nie laks wees ten opsigte van die beskerming van hul grondregte nie, maar eerder proaktief in hierdie verband optree alvorens enige hulp aangebied kan word.

“Dit is van kardinale belang dat grondeienaars op hul hoede moet wees en hul grond moet patrolleer. Indien mense grond onwettig betree, ontbied onmiddellik die polisie vir bystand en maak dadelik ’n saak van betreding aanhangig. Skakel ook met plaaslike buurtwagte om te help om grond te beskerm en te keer dat geweld uitbreek. Dit is elke grondeienaar se verantwoordelikheid om self sy grond te beskerm en soveel moontlik bewyse oor die voorval in te win,” sê Tarien Cooks, veiligheidskoördineerder van AfriForum.

Enige voorvalle van geweld of intimidasie moet by die polisie aangemeld word. AfriSake en AfriForum maak op die publiek se paraatheid staat, asook op hul vermoë om bewyse te bekom om te verseker dat die EFF en Julius Malema die hofbevel gehoorsaam ten einde grondgrype teen te werk en totale chaos op 6 April 2017 te verhoed.

Soortgelyke plasings