Privatisering is ’n noodsaaklikheid en nie ’n vloekwoord
Deur Eugene Brink
Ondanks die opjaag van vrese in sekere ideologiese kringe oor privatisering, is dit iets wat ’n ekonomiese imperatief en werklikheid geword het – nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld.
Lande waar privatisering sterk en staatsinmenging minimaal is, is sonder uitsondering meer welvarend, leefbaar, suksesvol, stabiel en minder korrup as lande waar dit nie die geval is nie. Verskeie indekse sit dit treffend uiteen. Die Wêreldbank-indeks oor hoe maklik dit is om sake te doen in ’n bepaalde land wys onteenseglik hoe state soos Nieu-Seeland, Singapoer en die VSA voorloop wat onder meer die stigting van ondernemings, die afhandeling van permitte, beskikbaarheid van elektrisiteit, die afdwing van kontrakte en die registrasie van ’n eiendom betref. Hierdie lande se menslike ontwikkeling is insgelyks die hoogste en hulle is almal eerstewêreldlande.
Selfs voormalige kommunistiese lande soos Litaue en Estland se indekse is uitstekend en hulle pluk die ekonomiese vrugte daarvan. Dieselfde kan nie van lande soos Venezuela (188ste uit 190 lande), Suid-Soedan en Eritrea gesê word nie. Venezuela se skouspelagtige kreeftegang van die rykste land in Latyns-Amerika tot die siek man van dié streek en wêreld is nou al oorbekend. ’n Gebrek aan private inisiatief en sosialisme het veroorsaak dat mense in lang rye moet wag vir kos en medisyne terwyl hulle eintlik moet werk.
Die rigting waarheen vlugtelinge ook koers kies, illustreer dit perfek: Weg van sosialistiese lande waar als kwansuis gratis, maar nie beskikbaar is nie, na lande waar privatisering en gepaardgaande vryhede botvier. Indien ’n regering groot genoeg is om jou als te belowe en te gee, is dit ook groot genoeg om als by jou weg te neem.
Suid-Afrika
Dis kommerwekkend hoe Suid-Afrika se posisie in die Wêreldbank-indeks verswak het. Hierdie toedrag van sake het juis saamgeval met verswakkende ekonomiese toestande en groeiende werkloosheid. In 2006, toe die land teen sowat 4,5% gegroei het en werkloosheid veel laer was as nou, was die land steeds in die 28ste posisie. In 2019 het ons tot die 84ste posisie teruggesak.
In die muwwerige sosialistiese dampkringe van die regerende alliansie is die blote noem van “privatisering” taboe. Die rede hoekom die ANC dit so verfoei, is omdat die privaat sektor duidelik veel beter vaar met wat die staat veronderstel is om te doen. Vandaar hul nydige en afgunstige vendetta teen hierdie sektor.
Die hele staat en veral staatsbeheerde ondernemings het klaaglik misluk onder ANC-bewind. Dit kan aan ’n hele boel faktore toegeskryf word, soos korrupsie, wanbestuur, onbevoegdheid en ’n totale gebrek aan gevolge.
Die enorme uitdagings by Eskom en die stryd tussen dié kragverskaffer en die nasionale energiereguleerder (Nersa) is tekenend van hoe die staat misluk het in ’n krities belangrike sektor. Eskom se probleme word toegeskryf aan die regerende party se rassepolitiek en omdat vakbond-vennote voorrang bo veel belangriker aspekte soos meriete en kragvoorsiening gekry het. Soortgelyk aan Eskom is die onderwyssektor, waar die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), ’n Cosatu-vakbond, in menigte openbare skole straffeloos optree tot nadeel van gemeenskappe en leerlinge.
Dit is daarom geen verrassing nie dat pres. Cyril Ramaphosa onlangs by die ANC se 108ste verjaardagvieringe die ANC se vennote en ondersteuners verseker het dat Eskom nie geprivatiseer sal word nie. Trouens, hy het vol selfvertroue verklaar dat Eskom te groot is om te misluk en opsluit gered sal word.
Die werklikheid is dat die kragreus kán misluk en as’t ware reeds misluk het. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Denel ook. Munisipaliteite, skole en ander staatsdepartemente ontvang geld in ruil vir substandaard- of geen dienste.
Indien hierdie entiteite privaat was, sou hulle lank reeds ondergegaan het – markkragte sou daarvoor gesorg het omdat verbruikers hulle die rug sou toekeer. Dit is nie dat korrupsie, onreëlmatighede, swak diens en wanbestuur nie in die private sektor plaasvind nie, maar weens die aard van die private sektor en die gevolge vir sulke gedrag vir private ondernemings, kom hierdie wanpraktyke nie wydverspreid voor nie. Dit is veel erger in die staat, weens hul permanente karakter en gebrek aan deurlopende wigte en teenwigte, wat veroorsaak dat korrupsie in meeste definisies slegs as ’n staatsverskynsel beskou word.
’n Opskrif in die media lui onlangs dat die Gautengse onderwysdepartement laataansoekers ’n reddingsboei gegee het deur die aansoeke weer oop te stel. Dit is nie heeltemal waar nie, al wou die departement dit so laat klink. Indien dit nie was vir die privaatskoolgroep Curro se vergunning om nog kinders in te neem nie, sou hierdie kinders nêrens plek kry nie. Curro het dus die ware reddingsboei gegee en nie die departement nie.
Só het privatisering as reaksie op staatsverval en -onvermoë deel van ons daaglikse lewens geword in die vorm van onder meer privaatsekuriteit, privaatskole en privaatgesondheidsdienste. Krag- en watervoorsiening sal volg. Ek sidder om te dink wat sal gebeur as dit nie so was nie.
Dr. Eugene Brink is ’n strategiese adviseur vir gemeenskapsake by AfriForum.