Privaat vervolgingsukses: Mamelodi-man skuldig bevind aan aanranding van buurvrou
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nóg ’n oorwinning in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld behaal met die skuldigbevinding van Irvin Thabo Ngobeni vir die aanranding van sy buurvrou, Nthabiseng Sebothoma. Gister het die Mamelodi Landdroshof Ngobeni gevonnis tot ’n boete van R6 000 of drie maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is vir 5 jaar op voorwaarde dat hy nie weer skuldig bevind word aan aanranding nie. Sebothoma het AfriForum vroeër vanjaar genader omdat die polisie versuim het om die saak behoorlik te ondersoek en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) boonop later geweier het om Ngobeni te vervolg.
Sebothoma is verlede jaar op die vroeë oggendure van 23 September 2023 wakker gemaak deur Ngobeni, haar buurman in Moretele View , wat beweer het dat iemand sy motorsleutels op die dak van haar huis gegooi het. Hy wou toegang tot die eiendom hê sodat hy dit kon kry. Toe Sebothoma vir hom sê om die volgende dag terug te keer, het hy haar verbaal beledig en gedreig om haar dood te maak. Toe sy hom toegang tot die eiendom geweier het, het hy haar aangerand deur haar te slaan en te skop, asook om haar te krap en haar klere te skeur. Die hof het bevind dat Sebothoma ’n betroubare getuie is en haar weergawe van gebeure aanvaar, wat deur haar broer gestaaf is.
Sebothoma het ná die verrigtinge gesê sy is teleurgesteld oor die ligte vonnis, maar ook verlig omdat al sy net wou gehad het dat geregtigheid geskied. “Ek’s verheug dat hy aan die einde van die dag skuldig bevind is. Ek’s dankbaar vir AfriForum, wat nooit terugstaan nie en altyd mense daar buite help. Ons regstelsel faal ons en ons het nêrens anders om heen te gaan nie. Dit is regtig hartseer dat dit hulle is wat veronderstel is om ons te verdedig, veronderstel is om ons te beskerm, maar die stelsel en die polisie laat ons eerlikwaar net in die steek. Hulle doen eenvoudig nie hul werk reg nie. Dis regtig hartseer,” sê sy.
Die AfriForum-aanklaer, adv. Phyllis Vorster, het tydens die slotbetoë aan die hof gesê dat Ngobeni tronk toe gestuur moet word. “Die beskuldigde is ’n boelie. Hy het sy buurvrou in die privaatheid van haar eie erf aangerand deur haar te skop, met oop hande te klap, haar met vuiste te slaan, haar kop teen die muur en die staalgedeelte van die hek te slaan en haar met sy vingernaels te krap.
“Ondanks die lippediens wat gelewer word in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en wetgewing om hierdie vlaag van geweld te hanteer en selfs ’n jaarlikse tydperk van optrede en besinning oor geslagsgebaseerde geweld, het die strafregstelsel slagoffers in die algemeen en hierdie slagoffer spesifiek, gefaal dat sy haar tot private vervolging moes wend om geregtigheid te kry,” sê sy.
Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê ’n opgeskorte vonnis kan as te toegeeflik beskou word, maar die feit dat die beskuldigde skuldig bevind en gevonnis is, is die belangrikste deel van hierdie saak. “Terwyl ons verheug is dat Nthabiseng geregtigheid gekry het, deel ons in haar teleurstelling dat dit skynbaar ’n onvanpaste ligte vonnis is. Die landdros het in haar uitspraak verwys na Mamelodi wat die tweede hoogste aantal geslagsgebaseerde geweldsake in die land aangeteken het, maar dié veroordeelde vroueslaner word ’n opgeskorte vonnis opgelê.”
Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, sê dit is nóg ’n voorbeeld van die strafregstelsel se versuim om meer as net lippediens aan die vlaag van geslagsgebaseerde geweld te doen. Die irrasionele besluit om nie te vervolg nie, ten spyte van vertoë deur die slagoffer en inagneming van die lae aanmelding van hierdie misdade, is simptomaties van die strafregstelsel se benadering tot die pandemie van geslagsgebaseerde geweld. Soos in die Alexi Bizos-saak is daar geen twyfel dat die NVG die slagoffers in die steek gelaat het nie.
“Hierdie was ’n eenvoudige saak van aanranding, maar tog skynbaar te moeilik of te veel van ’n ongerief vir die staat om te vervolg. Tog is dit hierdie tipe sake, wat dikwels deur die polisie misgekyk word as nie ernstig genoeg nie, waar die werklike stryd teen geslagsgebaseerde geweld moet plaasvind. Oortreders van sulke geweld moet weet dat om ’n vinger op ’n vrou of kind te lê tot ’n skuldigbevinding sal lei,” sê Nel.
Sebothoma, wat ondersteun word deur haar familie, het besluit om nie ’n onreg te aanvaar nie en ons hoop dat hierdie sukses die kwesbares in die samelewing aanmoedig om die mislukking van die strafregstelsel te verwerp en te staan vir wat reg is.
Ten spyte van ons kritiek op die strafregstelsel, moet ons ook die Mamelodi Landdroshof loof vir die doeltreffendheid en professionaliteit waarmee hierdie saak hanteer is.