Pretorianers met waterbeperkings gelooi, maar metro die grootste sondaar
Die aankondiging dat die Tshwane-metro boetes sal oplê, watertoevoer beperk of watertoevoer aan verbruikers ontkoppel wat nie aan die vlak 1-waterperkings gehoor gee nie, is volgens AfriForum verregaande, aangesien dié metro een van die grootste sondaars is as dit by watervermorsing kom.
Alhoewel dit prysenswaardig is dat die metro stappe doen om bewusmaking te bevorder rakende die huidige watertekorte en inwoners opnuut herinner dat die vlak 1-waterbeperkings wat destyds opgelê is, nog steeds van krag is, bevraagteken AfriForum waarom wetsgehoorsame burgers wat getrou hul munisipale rekeninge betaal, gestraf word terwyl die metro self tot die krisis bydra.
Die Tshwane-metro, een van die grootste waterverbruikers in Gauteng, pomp daagliks 18% meer water vanaf Rand Water as wat die stad gemagtig is om te ontvang. Dit terwyl ’n stewige 33% van water wat in die metro verlore gaan, grotendeels te wyte is aan lekkasies en onwettige koppelings.
“Almal is bewus van die waterkrisis wat dreig en elke inwoner in die Tshwane-metro moet eienaarskap neem en water verantwoordelik gebruik. Die inwoners kan egter nie oor die vingers getik word as daar nie daadwerklike stappe gedoen word en planne in plek gestel is om al die lekkasies te herstel en onwettige koppelings te identifiseer nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
AfriForum doen ’n beroep op die Tshwane-metro om eers aandag aan die vermorsing van skoon water te gee voordat daar vinger gewys word na die wetsgehoorsame inwoners en ondernemings in die metro.
“AfriForum sal altyd die gemeenskap se belange op die hart dra en is meer as bereid om te help met uitvoerbare oplossings om die onnodige vermorsing van water te stop. Die burgerregteorganisasie moedig inwoners aan om enige waterlekke in hul gemeenskappe by AfriForum aan te meld sodat daar dringend aandag daaraan gegee kan word,” sluit Ungerer af.
Klik hier om lekkasies in die Tshwane-metro by AfriForum aan te meld.