Pretoria verval en vervuil, terwyl raadslede R161 miljoen in hul sakke steek
Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het tydens ’n spesiale raadsvergadering vroeër vandeesweek ’n 5% verhoging – terugwerkend vanaf 1 Julie 2024 – vir raadslede in dié metroraad goedgekeur. Hierdie verhoging lig ’n paar wenkbroue veral in die lig van die metro se sukkelende finansiële stabiliteit en probleme met dienslewering.
Tshwane-raadslede sal dié metro dus nou altesaam R161 miljoen ’n jaar uit die sak jaag: R119 miljoen vir salarisse, R4,8 miljoen vir pensioen en werkloosheidvoorsieningsfondse, R4,4 miljoen vir medies en ’n skokkende R32 miljoen vir voertuigtoelae. Die burgermeester, speaker en lede van die burgemeesterskomitee sal elk ook R1,2 miljoen ’n jaar in die sak steek.
“’n Mens kan dalk hoop dat raadslede hierdie finansiële hupstoot sal gebruik om hul eie agterstallige munisipale rekeninge, wat teen Maart 2024 ’n totaal van R2,5 miljoen beloop het, te betaal,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
Terwyl die raadslede beplan wat om met al hul nuwe rande te doen, bly die vraag of die Tshwane-metro enige planne het om hul R6,7 miljard se skuld aan Eskom af te betaal.
AfriForum twyfel egter sterk dat die Tshwane-metro dié metropool en sy inwoners se welvaart in belang het, daarom het dié burgerregteorganisasie al vroeg in 2025 probleme met dienslewering getakel. AfriForum se Pretoria-buurtspanne het vanjaar al stormwaterdreine, spruite en sypaadjies skoongemaak, asook vullis in dié stad verwyder.
AfriForum-buurtspanne in Pretoria het in 2024 nagenoeg 15 517 sakke vullis verwyder en 43 560 kg se vullis herwin. AfriForum het ook reeds vir die nuwe jaar sy herwinningsprojek in gebiede soos Groenkloof vergroot en beplan om in groot dele van Pretoria uit te brei. Verder gaan daar gefokus word op die onwettige storting van vullis, veiligheid, spruite, waterlekkasies en padveiligheid.
“Gemeenskapslede kan nie op staatsinstellings staatmaak om hul woongebiede te versorg nie, daarom moet hulle self betrokke raak by organisasies soos AfriForum wat daadwerklik probleme identifiseer én oplos. Ons gaan ons hulpbronne doeltreffend gebruik om volhoubare oplossings vir gemeenskappe daar te stel,” sluit Hemmens af.