| |

President Ramaphosa se hele kabinet moet verantwoording doen vir Eskom se skuldlas

Provinsiale en nasionale departemente dra ook aansienlike blaam vir beurtkrag en nie slegs munisipaliteite nie, meen die burgerregte-waghond AfriForum. Die afskryf van Soweto se skuld aan Eskom gaan niks doen om die werklike probleem op te los nie en president Cyril Ramaphosa moet na sy eie kabinet se prestasie kyk vir die oorsaak van die finansiële krisis binne die staat. 

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, beloop die munisipale skuldlas vir Eskom ongeveer R44 miljard. “Hierdie skuld lewer ongetwyfeld ’n reuse-bydrae tot die finansiële krisis waarin die nasionale kragvoorsiener homself bevind en sy onvermoë om die nodige krag aan die land te voorsien. Die probleem gaan egter veel dieper as die wanbetaling van munisipaliteite en strek tot by provinsiale en nasionale regeringsfere se onvermoë om hul grondwetlike pligte uit te voer.”

Te midde van die politieke krisis binne die ANC oorweeg die president, met ondersteuning van die huidige Premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, om Soweto se skuldlas af te skryf.  “Hoewel hierdie ’n maklike manier is vir die ANC om politieke steun te werf, is die impak daarvan dat Eskom en ander staatstrukture net verder in duie sal stort.  AfriForum sal só ’n besluit beveg,” sê Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapselfstandigheid.

Op nasionale regeringsvlak is die uitvoering van pligte net so power. “Dit is dr Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, se plig om te verseker dat alle rolspelers op provinsiale en plaaslike regeringsvlak moet saamwerk om die finansiële probleme op te los. Dít gebeur uit die aard van die saak glad nie. ’n Goeie voorbeeld is die nasionale tesourie wat fondse aan munisipaliteite betaal wat armlastiges se munisipale kostes dek. In baie gevalle word hierdie gedeelte nie eens deur munisipaliteite aan Eskom betaal nie. Dit is dus krities dat Dlamini-Zuma haar magte as minister gebruik om te verseker dat die skuld aan Eskom betaal word,” gaan Mostert voort. “Die skrywers van die Grondwet het verwag dat bevoegde amptenare op provinsiale en nasionale regerings sal dien wat intervensie op plaaslike regeringsvlak sal kan toepas. Dit blyk om ongelukkig nie die geval te wees nie.”

Volgens Mostert hou hierdie situasie verband met artikel 139 van die Grondwet. “Hierdie artikel bepaal dat indien ’n munisipaliteit nie sy uitvoerende verpligtinge in terme van die Grondwet of ander relevante wetgewing nakom nie, die relevante provinsiale uitvoerende gesag die nodige stappe mag doen om te verseker dat die verpligtinge nagekom word. Wanneer daar na Eskom se groot munisipale skuldlas gekyk word, is dit duidelik dat die provinsiale intervensies uiters oneffektief toegepas word.”

Petrus Coetzee, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê een van die oorsake van die enorme skuldlas is die ondoeltreffende invorderingsmeganismes van munisipaliteite. “Baie munisipaliteite vorder dus nie genoegsame fondse in om hulle rekening by Eskom te vereffen nie of enigsins af te betaal nie.”