Pragtige veldblomme te sien op Langebaan-wandelroete
In die pragtige Weskus-dorp Langebaan is daar ’n wandelroete waar die blommekuns wat eie is aan dié gebied rustig ontdek en waardeer kan word. Hierdie wandelroete van ongeveer 2 km is ’n paar jaar gelede op die Longacres-landgoed tot stand gebring en spog met die mooiste blomme wat veral hierdie tyd van die jaar die veld in ’n kunswerk omtower.
“Ek het besef die blomme hier is so mooi dat dit ook met ander mense gedeel moet word en dit is hoe hierdie wandelroete byna vyf jaar gelede tot stand gekom het,” sê Gerhard Burne van AfriForum se Weskus-tak.
AfriForum se Weskus-tak het verlede jaar in samewerking met lede van die Longacres Huiseienaarsvereniging borde by veldblomme op die landgoed opgesit met die naam en agtergrond van die spesifieke blom. Die roete is ook verlede jaar amptelik geopen en oopgestel aan die publiek.
Met Forum Nuus se besoek in Julie vanjaar het fyn blommetjies al plek-plek begin kop uitsteek. As dit nie vir die bordjies al langs die roete was wat van die blomme aanwys en die vier kenners saam met wie die roete aangepak is nie, was hierdie blommetjies beslis misgekyk.
Burne, Lisa Vos, Ettiene Kilian en Leon Gouws het entoesiasties blomme uitgewys en hulle liefde vir dié omgewing en sy blomme is aansteeklik.
Met die goeie reënval wat die Wes-Kaap gehad het, kan vanjaar se blomme net so mooi wees as verlede jaar en diegene wat binnekort die Weskus gaan besoek, kan gerus hierdie wandelroete by hul lys van moet-doen-dinge voeg.