|

Potchefstroom-tak eis duidelikheid oor R50-heffing op krag

Die AfriForum-tak in Potchefstroom versoek dat die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit duidelikheid gee oor die R50-heffing wat nou op voorafbetaalde krag betaal moet word asook die prosedure wat gevolg is om hierdie heffing te implementeer.

Volgens wetgewing is daar bepaalde stappe vat gedoen moet word ten einde enige heffings regmatig in te stel, waaronder:

  1. Volgens die Wet op Munisipale Stelsels 32 van 2000 moet ’n munisipaliteit akkurate fakturering doen en daar moet ruimte wees vir navrae en dispute. Die AfriForum-tak wil weet of daar stelsels in plek is vir die verbruiker om navraag te doen en dispute te lewer.
  2. Die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA) van 2000 vereis dat administratiewe aksies wettig, redelik en prosedureel regverdig moet wees. AfriForum versoek inligting oor of die behoorlike administratiewe proses gevolg is – dié proses sluit openbare deelname in. Die tak wil ook weet of die munisipaliteit genoegsame redes verskaf het om hierdie heffing in te stel.
  3. Die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting 6 van 2004 vereis dat enige verandering aan tariewe en heffings in ooreenstemming met die munisipaliteit se beleid oor tariewe gedoen moet word en dat sodanige veranderings op ’n deursigtige wyse aan die gemeenskap gekommunikeer moet word.
  4. Die Elektrisiteitsprysbeleid 24 vereis dat ’n kosteraamwerkstudie minstens elke vyf jaar gedoen moet word om nuwe tariewe voor te stel.

Na aanleiding van die wetlike vereistes vir die implementering van heffings versoek die AfriForum-tak in ’n skrywe die volgende inligting van die munisipaliteit:

  1. besonderhede oor die openbare deelnameproses wat plaasgevind het voor die implementering van die heffing;
  2. bewyse van die stelsels wat daargestel is waar inwoners dispute kan verklaar of navraag kan doen oor die heffing;
  3. en bewyse dat die kosteraamwerkstudie, wat hierdie heffing regverdig, gedoen is.

“Dit is baie sleg dat mense so onkant gevang moet word met ’n R50-heffing wat nie duidelik gekommunikeer is nie en waarvoor daar klaarblyklik nie ’n goeie rede is nie. Die munisipaliteit moet dalk eerder daarop fokus om agterstallige kragskuld in te vorder en onwettige verbindings die hoof te bied eerder as om getroue betalers met ’n R50-heffing te straf,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings