|

Potchefstroom-tak bederf Super Tokkies tydens Super 12-reeks

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het hierdie jaar Laerskool Mooirivier, aan die wal van die Mooirivier in Potchefstroom, ondersteun tydens die Super 12-reeks. Dié tak het 606 bederfpakkies aan die leerders oorhandig om hulle aan te moedig vir die aktiwiteite wat voorlê. Elke pakkie het ’n keps en verversings bevat.

Mooirivier se Super Tokkies het aan al die aktiwiteite deelgeneem, waar onder: Redenaars, rugby, netbal, skaak, koor, krieket, hokkie, tennis, Bybelvasvra, landloop, algemene kennis, atletiek, swem en gholf.

Tydens hierdie reeks het Mooirivier uitstekend gevaar en hulle het meer as een keer as wenner uit die stryd getree. Die tak wens elke leerder wat deelgeneem het en puik prestasies behaal het, baie geluk.

Douglas Bourne, takvoorsitter van Potchefstroom, sê dit is met trots en opwinding dat AfriForum se Potchefstroom-tak deel mag hê aan die reis wat hierdie uitmuntende skool meegemaak het. “Baie geluk aan elke leerling, ouer en onderwyser met sulke wonderlike prestasies. Mag die eksamentyd net so vol suksesse wees en daarna ’n welverdiende en geseënde vakansietyd! Die AfriForum-tak sien uit daarna om weer volgende jaar hande te vat met hierdie skool se leerders, ouers en onderwysers.”

“Dit was ’n heerlike ervaring om gereeld ’n draai by hierdie skool te maak. Ons is elke keer met ope arms ontvang en verras met die leerders se goeie maniere en vriendelikheid. Die feit dat hulle deelgeneem en dit geniet het is al klaar genoeg, maar hulle het nog presteer ook, wat ’n lekker bonus is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke. Kontak vir Leandra Rootman by 073 886 3520 om by die tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings