|

Pongola-tak red toegegroeide begraafplaas van verval

AfriForum se Pongola-tak het die afgelope maand verskeie skoonmaakaksies saam met gemeenskapslede aangepak, waarvan die belangrikste was om Pongola se plaaslike begraafplaas skoon te maak. Die begraafplaas was bykans heeltemal toegegroei ná swaar reën in Desember. Sedertdien het die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit weinig gedoen het om dit in stand te hou.

Marilda Schoombee, voorsitter van AfriForum se Pongola-tak, sê die gemeenskap het egter bymekaargekom om die begraafplaas reg te ruk. Hierdie skoonmaakaksie het mense die geleentheid gegee om onder veilige omstandighede hul geliefdes se grafte skoon te maak. Die AfriForum-tak het nagenoeg een hektaar gras by die begraafplaas gesny en opgehark, asook sowat twee ton vullis opgetel en weggery.

“Die skoonmaak van die begraafplaas is een van die projekte wat die Pongola-tak deurlopend gaan aanpak. Dis die tak se hoop dat meer gemeenskapslede hul by hierdie inisiatief sal skaar en aktief betrokke sal raak,” sê Schoombee.

“AfriForum merk daagliks op hoe dienslewering agteruitgaan en dat gemeenskappe self moet inspring om broodnodige dienste te lewer. Dorpe sal vervalle word as elke inwoner nie hulle deel doen en inkoop by inisiatiewe soos dié nie,” sê Eugene van Aswegen, provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Kontak Schoombee by 082 874 2340 om deel te raak van AfriForum se Pongola-tak en ’n bydra te lewer tot die projekte wat die tak aanpak.

Soortgelyke plasings