Plaasmoorde en ras: Dis nie so eenvoudig nie
Deur Ernst Roets
Dit is nie net onrealisties nie, maar ook onredelik om van joernaliste te verwag om nie eie opinies te hê nie. Joernaliste is gewone mense en het natuurlik ook die reg op hul eie opinies en selfs om daarvoor voorspraak te maak. Die groot gevaar is egter wanneer joernaliste vanuit hul posisie van invloed hulself as objektief of neutraal probeer voorhou, maar inderwaarheid selektief met die feite omgaan om hul eie vooroordeel te voed of om ’n bepaalde agenda as ’n neutrale standpunt voor te hou.
Toe Willemien Brümmer my onlangs vir kommentaar op haar meningstuk oor plaasmoorde genader het, het ek byvoorbeeld baie vroeg in ons gesprek reeds die indruk gekry dat sy selektief op soek was na feite wat kan dien om haar vooropgestelde gevolgtrekking te staaf. Ek het veral bekommerd geraak toe sy ongegronde polities gelaaide aanvalle op AfriForum as stellings aan my stel; ook toe sy vir my probeer verduidelik hoe AfriForum se proses werk om data oor plaasaanvalle in te samel, maar duidelik onder ’n ernstige wanbegrip daaroor verkeer het. Sy het dit byvoorbeeld gesê dat AfriForum nie swart slagoffers van plaasmoorde inreken nie, maar wél wit boere wat in dorpe vermoor word. Natuurlik is dit nie waar nie. Sy het dit iewers gehoor, klaarblyklik geglo en as ’n feit oorvertel omdat dit met haar vooropgestelde politieke agenda strook.
Brümmer het gevra waarom ek, wat aan die hoof van AfriForum se veldtog teen plaasmoorde staan, my nie net so sterk uitspreek teen swart mense wat vir ure lank op plase gemartel word nie. Sy het ook gevra vir ’n lys van swart mense wat op plase gemartel is. Ek het vir haar gesê dat ek moeite doen om met swart slagoffers in verbinding te tree en dat ek, om die waarheid te sê, nie bewus is van swart slagoffers wat vir ure lank gemartel is nie. Ek het ook verduidelik dat dit nie bloot mý opinie is nie, maar dat organisasies soos Crime Scene Cleanup – wat misdaadtonele opruim – ook al waargeneem het dat swart plaasaanvalslagoffers nie soos wit slagoffers gemartel word nie.
Brümmer het dit natuurlik as ’n bevestiging beskou van haar vooropgestelde idee dat daar een of ander duistere, rassistiese agenda moet wees agter AfriForum se veldtog om plaasmoorde te stuit. Sy het my daarop gewys dat die rasse-element in plaasmoorde oordryf word – en ter stawing daarvan my aandag gevestig op die artikel wat sy oor die moord op Tankiso Pharoe geskryf het. Hy was ’n plaasbestuurder wat verlede jaar in ’n plaasaanval naby Ladybrand erg aangerand en vermoor is. Sy vrou, Mmakarabo is tydens die aanval verkrag. Dit is ’n bitter tragiese verhaal wat my emosioneel aangeraak het.
Volgens Brümmer se eie verslag oor dié geval is die Pharoes daarvan beskuldig dat hulle “soos wit mense leef” en dat hulle aangeval was omdat hulle nie (by die wit mense) wou steel nie.
Natuurlik speel ras nie ’n rol by alle plaasaanvalle nie. Ons moet daarteen waak om die rassedimensie te oordryf – veral as ons nie bewyse vir ons aannames het nie. Brümmer probeer egter die teenoorgestelde prent skets: dat ras eintlik irrelevant is wanneer dit by plaasaanvalle kom. Dit is net so verkeerd.
’n Meer genuanseerde, korrekter standpunt oor ras en plaasaanvalle is die volgende: Nie alle plaasmoorde is rasgemotiveerd nie, maar ras is ook nie irrelevant nie. Om aan te voer dat plaasaanvalle per definisie rasgedrewe is, is verkeerd. Dit is egter net so verkeerd om plaasmoorde bloot as “gewone misdade” te probeer voorhou of om aan te voer dat ras as ’t ware irrelevant is. Dit is immoreel om dié wat hulle vir die beëindiging van (alle) plaasmoorde beywer, te probeer diskrediteer deur ’n duistere rassistiese agenda met ongegronde suggesties aan hulle te koppel. Om ’n koue skouer te draai op invloedryke politici se verromantisering van plaasmoorde en van geweld op spesifiek wit boere getuig egter self van ’n vooropgestelde rassistiese agenda.
AfriForum sal aanhou om onvoorwaardelik standpunt teen alle plaasmoorde in te neem, ongeag die ras van dié slagoffers. AfriForum sal ook onbeskaamd aanhou om die verromantisering van geweld, rasse-aanhitsing deur politici en dubbele standaarde in die media in die kollig te plaas en dáárteen standpunt in te neem.