|

Plaaslike brandweer “tap” ook voordeel uit nuwe AfriForum-noodwaterpunt op Machadodorp

Die nuwe noodwaterpunt wat AfriForum se Machadodorp-tak onlangs op dié dorp opgerig het, het reeds ’n belangrike bydrae tot hierdie gemeenskap gemaak en selfs die plaaslike brandweer het al water by dié waterpunt kom tap. Die ernstige watertekorte wat telkens in die dorp ondervind word, plaas ook druk op die diens wat die brandweer moet bied, en daarom het AfriForum se noodwaterpunt hier welkome verligting gebring vir brandbestryders om die tenks van hul mobiele brandbestrydingseenhede te hervul.

“Die gemeenskap en plaaslike nooddiensspanne trek swaar weens die watertekorte wat hier ondervind word, maar danksy die samewerking en proaktiewe optrede van AfriForum se Machadodorp-tak, kon hierdie noodwaterpunt reeds ’n noodsaaklike bydrae tot die verbetering van omstandighede op hierdie dorp maak,” verduidelik Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld. “Deur hierdie inisiatief kon AfriForum toesien dat die brandweer, ten spyte van watertekorte, steeds ten volle operasioneel kon bly tydens noodgevalle en sodende kon omsien na die veiligheid van ons gemeenskap.”

Volgens Henrico Duvenhage, voorsitter van die AfriForum se Machadodorp-tak, is dié tak trots op die steun wat hulle deur die noodwaterpunt aan die plaaslike brandweer kon lewer. “Die oprigting van die noodwaterpunt is ’n bewys van ons verbintenis tot die verbetering van infrastruktuur en dienste op Machadodorp,” verduidelik hy.

“Ons is ook dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en betrokkenheid by hierdie projek. Sonder hul samewerking sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie,” sluit Duvenhage af.

AfriForum het reeds in 2019 sy eerste noodwaterpunte by die Laerskool Pierneef in Pretoria opgerig. Sedertdien is daar jaarliks landwyd, met die uitsondering van die Wes-Kaap, nóg noodwaterpunte aangebring met die totaal wat tans op nagenoeg 70 punte staan. Die kapasiteit van hierdie waterpunte wissel van 500 liter tot 100 000 liter en die totale kapasiteit landwyd is tans nagenoeg 650 000 liter.

Soortgelyke plasings