|

Pasop vir die gerusstelling: “Ag dis nie so erg nie”

In ’n onlangse koerantrubriek lees ek hoe iemand weeklaag oor taal wat sogenaamd “al amper ’n toksiese onderwerp” gemaak word. Verder word neerhalend verwys na “taalbulle” en geïmpliseer dat klein koshuisonenighede deur hulle tot “oorloë” opgeblaas word.

Dit laat my dink aan ’n ma wat haar kind sien val dat die bloed spat, maar rustig terugleun en sê: “Ag nee wat jong, dis nie so erg nie”.

Die probleme wat Afrikaans vandag in die gesig staar, is juis deels die gevolg daarvan dat mense al te lank sê “dis nie so erg nie”. Of dan “nee wat, Afrikaans sal nooit uitsterf nie”.

Die realiteit is dat tale elke dag uitsterf. Sommige internetbronne meen dat ’n taal elke veertiende dag doodloop, ander meen dit is die lot van nege tale per jaar. Hoeveel dit ook al mag wees, die tale sterf uit omdat die sprekers daarvan dit ophou gebruik het en opgehou het om dit oor te dra aan volgende geslagte.

Gemeenskappe met tale wat krities bedreig word, is ook gewoonlik gemeenskappe wat lae vlakke van geletterdheid het en dus ekonomies swaarkry.

Afrikaanssprekendes is, danksy dekades se harde werk en toewyding van akademici, letterkundiges en gewone mense, in die bevoorregte posisie dat ons taal ontwikkel het tot die vlak waar dit oral gebruik kan word – van die hoogste akademiese velde en in multinasionale besighede, tot om die braaivleisvure. Mense wat slegs in Afrikaans skoolgegaan en gestudeer het, staan vandag regoor die wêreld aan die voorpunt van hulle werksvelde.

Onder jonger mense begin die mening egter posvat dat Afrikaans nie opgewasse is vir formele kommunikasie nie. Selfs lede van AfriForum skryf Engelse e-posse aan ons. Hulle verduideliking hiervoor is dat Engels die besigheidstaal is. By Engelse besighede mag dit die geval wees, maar naas AfriForum is daar vele besighede wat Afrikaans as administratiewe taal gebruik. Dit hou ons taal lewendig en deur in Afrikaans te kommunikeer, ondersteun en respekteer ’n mens hierdie besigheidsbesluit.

Waar kom hierdie soort persepsies vandaan? Soms weens invloedrykes se uitsprake teen die taal wat dikwels ideologies gedrewe is, soos die belaglike stelling van minister Blade Nzimande dat Afrikaans nie ’n inheemse taal is nie. Dit is niks nuuts nie – lord Alfred Milner het aan die begin van die vorige eeu al Afrikaans só probeer dooddruk.

Ander kere kom dit van mense wat dink verengelsing is die manier om vernaam te lyk. Hulle plaas hulle kinders in Engelse skole omdat hulle glo die spruite sal daarby baat en ignoreer die oorweldigende bewyse dat moedertaalonderrig die beste opsie vir enigeen is. Dit is ook nie nuut nie. Meer as ’n eeu gelede het C.P. Hoogenhout in sy gedig “Vooruitgang” geskryf:

Wie hom nie laat anglisere, word geskolde en gesmaad;

Tot in Vrystaat en Transvaal al, oweral dieselfde kwaad.

“Dis vooruitgang!” roep die skreeuers, “Dis beskawing wat nou kom!”

En dan kom ons by relletjies in koshuisgange. Daar waar iemand wat pas uit sy of haar ouerhuis kom, en nog iewers tussen kind en volwassene is, meegedeel word deur ’n personeellid of senior dat om hulle eie taal te gebruik, nie aanvaarbaar is nie. Dit sluit uit … ja, dis eintlik boos. Dis ’n taal van mense wat onregte gepleeg het.

Hierdie drogredenaars vergeet dat wanneer die koshuisinwoner nie sy of haar taal mag gebruik nie, dit hom of haar eweseer uitsluit. En dit vergeet dat daar letterlik geen taal op aarde is waarin daar nog nie onregte gepleeg is nie. Kyk maar die ryke erfenis aan onreg wat aan Engelssprekendes toegeskryf kan word. En dit is juis die punt. Die onregpleging moet aan die daders toegeskryf word, nie aan die taal wat hulle gepraat het, die gemeenskap waaraan hulle behoort het, of die nageslag wat hulle agtergelaat het nie.

Hierdie volwasse objektiwiteit ontbreek by vele en daarom het ons mense nodig wat sulke ondeurdagte argumente ontmasker. Sulke aktiviste is nie “taalbulle” nie, maar mense wat bloot sorg dra dat hulle taal beskerm word, sodat die skoonheid en voordele daarvan ook vir die geslagte na hulle toeganklik bly.

Die Khampepe-verslag is ’n verdere bewys van hoe enkelinge se wangedrag in koshuise misbruik kan word om ’n hele gemeenskap in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Ons kan dus nie koshuisgebeure, botsings in skole, kleinlike optrede in besighede, of taalregteontkennings in howe en staatsdepartemente net ignoreer of afmaak as “nie so erg nie”. Hoogenhout het al gewaarsku:

En ons volk met slaap bevange, droom van vrede, is gerus;

Word hul wakker, ‘t duur nie lank nie, netnou is hul weer gesus.

Dit is nóú die tyd om wakker te wees. Op elke terrein moet ons met groot waardigheid en styl, maar ook standvastig ruimte vir Afrikaans en haar sprekers opeis, want as ons dit nie doen nie, gaan niemand anders moeite doen nie.

Soortgelyke plasings