| |

Panyaza Lesufi geïmpliseer in beweerde toesmeer van korrupsie en dwarsboming van strafregtelike ondersoek

Die Gautengse Premier, Panyaza Lesufi, is na bewering ’n kernfiguur in ’n grootskaalse toesmeerveldtog van ongebreidelde korrupsie, geldwassery en bedrog wat die provinsiale regering nou al reeds honderde miljoene rande beloop en aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling toegeken is om maatskappye sonder winsoogmerk (MSW) te ondersteun. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou ’n fluitjieblaser in hierdie saak en is die opdrag opgelê om die geïmpliseerde amptenare en hulle instaatstellers, insluitend politici, strafregtelik aanspreeklik te hou vir hierdie diefstal wat nou al vir byna ’n dekade aan die gang is.

Die privaatvervolgingseenheid het talle forensiese verslae onder oë gehad oor die toewysing van fondse aan MSW’s vir die implementering van voedselbank-, skooluniform- en waardigheidspakkie-programme. Die verslae identifiseer amptenare wat na bewering misdade soos bedrog, korrupsie en geldwassery pleeg en stel voor dat dissiplinêre sowel as strafregtelike stappe teen hulle gedoen word. Dit is alreeds wyd berig dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling tussen September 2023 en Januarie vanjaar 13 geïmpliseerde amptenare geskors het. Hulle skorsings is egter intussen opgehef en hulle is weer terug by die werk.

Die fluitjieblaser sê dat die verslae aan Lesufi voorgelê is, maar dat hy eerder ’n regsfirma aangestel het om die verslae te hersien en om die geïmpliseerde amptenare vry te spreek. Hy het ook die mandaat van die regsfirma, wat aangestel is om die dissiplinêre verhore van die 13 amptenare te behartig, beëindig.

In ’n skrywe aan Lesufi se kantoor het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesê dat die optrede blyk ’n poging te wees om die beweerde misdade te verdoesel en die geïmpliseerde amptenare te beskerm.  Nel sê in sy skrywe ook dat daar waar ’n redelike verduideliking ontbreek die optrede van Lesufi se kantoor en die LUR van Maatskaplike Ontwikkeling neerkom op regsverydeling of dan minstens vrugtelose en verkwiste uitgawes. Volgens Nel is dit byna ondenkbaar dat ’n departement hul eie verslag wat onafhanklik saamgestel is sal hersien.

Nel voeg verder by dat Lesufi ingevolge artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite ’n verantwoordelikheid het om die oortredings te rapporteer.

Hy meld dat die kliënt die privaatvervolgingseenheid genader het op die premisse van die kommerwekkende versuim van die regering om fluitjieblasers te beskerm en te ondersteun. “Ons kantoor het nog nie die opsie uitgeskakel om die howe te nader om die premier te dwing om sy verpligtinge na te kom nie,” sê Nel.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat dit onverklaarbaar is waarom ’n premier, wat kwansuis daarop toegespits is om deursigtige regeringspraktyk te bevorder, na bewering pogings om korrupsie in sy regering uit die weg te ruim sou belemmer. “Die fluitjieblaser beweer dat Lesufi se versuim om die ondersoek uit te brei die struikelblok in die pad is van ’n interne dissiplinêre en strafregtelike proses teen die geïmpliseerde amptenare. Daar word beweer dat daar gevrees word dat ’n volledige ondersoek na die bewerings uiteindelik sal lei tot die finale begunstigdes van hierdie onwettige fondse. Daar is altyd ’n kommer dat wanneer die pionne in misdaadbedrywighede vasgetrek word hulle uiteindelik teen die instaatstellers sal draai. Die beste manier om hulself te beskerm is om hul voetsoldate te beskerm,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings