Pa en dogters in hof vir aanranding wat tot dood van ongebore baba lei
’n Pa en sy twee dogters van Eersterust het hul eerste hofverskyning gehad op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer – meer as twee jaar nadat die saak geopen is. Windel Ameer, Shahiedah Courtiers en Shariefah Ameer het Vrydag in die Hatfield-landdroshof verskyn. Die trio het Linodene Jacobus glo in Oktober 2020 aangerand wat haar met verskeie steekwonde en kneusplekke aan haar lyf gelaat het. Sy sou later haar ongebore baba verloor.
Ondanks videobewyse van die aanranding en weergawes van verskeie ooggetuies, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier om te vervolg. ’n Senior aanklaer in die NVG het geredeneer dat “gegrond op die feit dat dit ’n wedersydse bakleiery was,” daar geen vooruitsig op suksesvolle vervolging was nie.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het aan die NVG geskryf om die eenheid se verbasing uit te spreek oor hierdie irrasionele besluit. “Moet ons aanvaar dat vroue wat in ’n bakleiery beseer word geen beskerming van die wet sal ontvang nie? Ons kan nie anders as om ons afsku dat die NVG sou toelaat dat ’n saak soos hierdie vir maande uitgerek word, te weerspieël nie … As ’n ‘bakleiery’ toegelaat word, maak ons in werklikheid voorsiening vir wraakgevegte wat wettelose chaos tot gevolg kan hê,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid.
Die NVG het in Mei verlede jaar, ná druk van die eenheid, die besluit om nie te vervolg nie, hersien.
Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder, sê dit is onaanvaarbaar dat dit so lank geneem het om te verseker dat die saak voor die hof gebring is. “Dit blyk dat die owerhede enige verskoning sal probeer vind om nie te vervolg nie, in plaas daarvan om te verseker dat sake gereed is om verhoor te word. Daar is voldoende bewyse om die aanklagte teen die beskuldigde te ondersteun en ons is tevrede dat die saak uiteindelik voor die hof is.
“Ons spreek egter dieselfde kommer uit as die klaer se familie: dat die beskuldigdes deur moontlike invloed in hul gemeenskap in staat is om polisie-ondersoeke te ondermyn, wat hulle toelaat om straffeloos op te tree. Die eenheid sal dit nie duld nie. Dit wys ook dat geregtigheid byna onbereikbaar is vir burgers sonder ondersteuning van ’n waaksaamheidsopdrag soos AfriForum se privaatvervolgingseenheid,” sê Bateman.
Die saak is tot Donderdag 23 Februarie uitgestel.