Overstrand-tak ondersteun brandbestryders met noodsaaklikhede tydens brande
AfriForum se Overstrand-tak het onlangs broodnodige ondersteuning aan plaaslike brandbestryders gebied te midde van verwoestende brande wat deur die Hemel en Aarde-vallei en Karwyderskraal gewoed het. Dié tak het nie net die brandbestryders met noodsaaklikhede soos kos en water voorsien nie, maar ook allerlei ander benodighede geskenk sodat hulle veilig die stryd kon voortsit.
In ’n poging om die Overstrand Plaaslike Munisipaliteit, wat die brande getakel het, en ander individue wat deur die verwoesting geraak is, by te staan, het hierdie AfriForum-tak altesaam 80 etes en 100 bottels water geskenk, asook 80 noodhulpsakke gevul met noodsaaklike items soos oogdruppels, energiestafies, lipbalsem en salf om brandwonde te behandel.
Fanie Coetzee, voorsitter van AfriForum se Overstrand-tak, sê die burgerregteorganisasie is daartoe verbind om die gemeenskap by te staan in tye van nood. “Dit is vir ons ’n voorreg om die Overstrand-gemeenskap te kan help, daarom is die tak op hoë gereedheid en reg om verdere bystand te bied indien dit benodig word.”
Hierdie ondersteuning beklemtoon nie net die belangrikheid van gemeenskapsamewerking in tye van krisis nie, maar beklemtoon ook die kritieke rol wat organisasies soos AfriForum speel in rampbestuur. Die samewerking tussen die gemeenskap en ondersteunende entiteite is noodsaaklik vir ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing.
Word vandag nog by AfriForum se Overstrand-tak betrokke deur www.wordlid.co.za te besoek vir meer inligting.