|

Ouers, studente en kinders: Moet en kan hulle iets doen in die stryd vir Afrikaans?

Afrikaans is die afgelope tyd dikwels in die nuus. Ongelukkig is dit nie altyd goeie nuus nie. Inteendeel. Dié wat Afrikaans liefhet se harte sak telkemale in hulle skoene as berigte verskyn dat die een universiteit na die ander Afrikaans as onderrigtaal afskaf. Baie Afrikaanse skole is ook in ’n verbete stryd betrokke om Afrikaans as onderrigtaal te behou. Die Afrikaanse Taalraad (ATR) en burgerregteorganisasies soos AfriForum en die DAK Netwerk is amper daagliks betrokke in vurige debatte, voorleggings aan die regering en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) of in dikwels uitgerekte hofsake om die saak van Afrikaans te probeer beredder.

Ons blameer dikwels die ANC-regering vir die toenemende verskraling van die gebruik van Afrikaans op verskillende samelewingsterreine. Tog speel elkeen van ons ’n rol. Wat primêre- en hoëronderwys betref, is dit veral ouers, leerders en studente wat ’n verreikende impak het deur die taalkeuses wat hulle uitoefen. Hulle stem as’t ware met hulle voete – oftewel met die taal wat hulle kies – vír of téén Afrikaans. So gebruik skoolhoofde en universiteitsowerhede dikwels die argument dat die meerderheid van ouers, leerders en/of studente Engels verkies en dat dit die rede is vir die afskaffing of verskraling van onderrig in Afrikaans.

Sommige mense mag ook wonder of al die pogings van taalvegters werklik die moeite werd is. Engels – so glo baie – is in elk geval die wêreldtaal, asook die taal van globalisering en die globale mark. Hulle aanvaar derhalwe dat dit beter is dat ons kinders en studente in Engels studeer. Hulle glo verder dat Engels jongmense beter voorberei vir die beroepswêreld en hulle help om goeie werk te kry en vinniger in hulle beroepslewe te vorder.

Die meeste van hierdie aannames berus egter op wanpersepsies en mites. In akademiese kringe word sodanige wanvoorstellings as globalisme getipeer. Globalisme impliseer dat mense (verkeerdelik) glo dat globalisering ’n kragtige en onstuitbare proses is wat ’n mens nie kan vermy nie. Individue, groepe en gemeenskappe het as’t ware geen ander keuse as om by globalisering aan te pas en dit selfs te verwelkom nie. Deur Engels te kies, glo mense dat hulle hul voorberei om deel van die globaliserende wêreld te word en aan die globale ekonomie deel te neem.

Moedertaalonderrig is net eenvoudig die beste!

In plaas daarvan om hulle denke en taalkeuses te laat beïnvloed deur mites en valse ideologieë, behoort mense eerder te kyk na wat betroubare navorsing oor die taal van onderrig aantoon. Moedertaalonderrig is seker een van die onderwerpe waaroor daar wêreldwyd die meeste navorsing gedoen word. Internasionale instansies soos UNESCO het byvoorbeeld grootskaalse navorsingsprogramme geloods om die impak van onderrigtaal te ondersoek. Keer op keer is die bevindings dieselfde. Moedertaalonderrig is net eenvoudig die beste! Daar bestaan inderwaarheid onteenseglike navorsingsgetuienis vir die wye reeks voordele van moedertaalonderrig.

Eerstens bevorder moedertaalonderrig nie alleen die verwerwing van kennis en begrip nie, maar ook die ontwikkeling van kognitiewe, affektiewe en sosiale vaardighede. Leer impliseer ’n komplekse proses en behels dat leerders nuwe kennis verwerf; dié nuwe kennis integreer met bestaande kennis; insig verwerf in die beginsels en prosesse van ’n bepaalde leerveld; vakkundige konsepte verstaan; die tegniese terme bemeester wat met hierdie konsepte verband hou; en hierdie kennis en insigte gebruik om probleme op te los en oor die inhoud van ’n vakgebied te redeneer. ’n Hoë vlak van bewuste, abstrakte en kognitiewe denke word vir al hierdie prosesse vereis. Kennisverwerwing vind egter nie sommer spontaan plaas nie. Dit volg op ’n suksesvolle interaksie tussen die leerder, ’n onderwyser of dosent en die leermateriaal. Effektiewe kommunikasie is gevolglik ’n kernelement van suksesvolle leer. Taal – as die belangrikste kommunikasiemiddel – speel gevolglik ’n sentrale rol. Leerders leer vinniger en beter in ’n taal wat hulle baie goed ken soos hulle moedertaal. Hulle verwerf vinniger ’n hoër vlak van funksionele geletterdheid en beskik oor beter leer- en kommunikasievaardighede. Hulle kan gevolglik beter oor die leermateriaal kommunikeer soos om vrae te vra, vrae te beantwoord (soos in eksamens) en hulle eie opinies te lug.

Die teenoorgestelde is waar wanneer leerders leer in ’n taal wat hulle nie baie goed ken nie. Hulle leer stadiger en presteer dikwels nie volgens vermoë nie. Op die ou end kan hulle ’n agterstand ontwikkel wat baie moeilik weer ingehaal kan word.

Die aanleer van ’n tweede taal word ook bevorder deur die verbeterde leer- en kommunikasieprosesse wat deur die gebruik van die moedertaal gefasiliteer word.

Kinders wat in hulle moedertaal skoolgaan, sal gevolglik in staat wees om Engels (of ’n ander tweede of derde taal) vinniger te bemeester.

’n Ander verrassende aspek is dat kennis en vaardighede nie taalgebonde is nie. Leerders wat komplekse konsepte en die gepaardgaande prosesse in hulle moedertaal bemeester het, kan dit met relatief min moeite na ’n tweede (of derde) taal oordra.

Baie mense redeneer egter dat dit deesdae vir kinders maklik is om oor te skakel na Engelse onderrig, omdat hulle voortdurend aan Engels blootgestel word via die televisie en sosiale media. Die taal wat in onderrig gebruik word, verskil egter aansienlik van die alledaagse omgangstaal wat in televisieprogramme gebruik word. Onderrigtaal word gekenmerk deur die gebruik van akademiese en tegniese terme, asook abstrakte uitdrukkings en komplekse morfologie en sinstrukture wat min in alledaagse gebruikstaal voorkom. Selfs moedertaalleerders kom nie skool toe met hierdie taalvaardighede nie.

Die vraag kan egter gevra word of dit soveel saak maak as onderrig in die hoër onderwys – dit is nou by kolleges en universiteite – hoofsaaklik in Engels is. ’n Mens sou kon redeneer dat leerders teen die tyd dat hulle hoërskool voltooi het, voldoende kognitief, affektief en sosiaal ontwikkel het en voldoende taalvaardighede ontwikkel het om na onderrig in ’n tweede taal oor te skakel. Navorsing deur UNESCO het egter aangetoon dat die voordele versterk word deur opeenvolgende jare van moedertaalonderrig. Kortom: hoe meer jare van moedertaalonderrig, hoe beter. So getuig Afrikaanssprekende Unisa-studente wat in Afrikaans onderrig ontvang het, dat hulle die werk beter verstaan, dat hulle beter oor die leermateriaal kon kommunikeer, en dat hulle hul in stresvolle eksamensituasies makliker in Afrikaans kon uitdruk. Hulle bevestig ook dat wanneer hulle moeilike konsepte in Afrikaans baasgeraak het, hulle ook in ’n ander taal soos Engels daaroor kon kommunikeer.

’n Ander mite wat taalkeuses beïnvloed, is die opvatting dat onderrig in Engels noodwendig gehalte-onderrig impliseer. Dit is eenvoudig nie waar nie. Die kwaliteit van onderwys word nie in die eerste plek deur die taal van onderrig bepaal nie. Faktore soos die inhoud van die kurrikulum, die beskikbaarheid van goedopgeleide en toegewyde onderwysers, befondsing, die beskikbaarheid van onderrigfasiliteite en die gehalte van die bestuur by onderwysinstansies speel ’n belangrike rol.

Daar moet verder in gedagte gehou word dat taal ook sielkundige, sosiale en kulturele funksies vervul. In die eerste plek speel taal ’n rol in die vorming van persoonlike identiteit, ’n gevoel van selfwaarde en selfvertroue. Navorsing wat aan die Universiteit van Kaapstad gedoen is, het byvoorbeeld aangetoon dat swart studente wat nie Engels as eerste taal gehad het nie, min selfvertroue gehad het om aan klasgesprekke deel te neem, omdat hulle bang was dat hulle uitgelag sou word. Hulle is gevolglik as’t ware stilgemaak in die akademiese gesprek.

’n Verdere belangrike psigososiale funksie is dat taal ’n belangrike draer van etniese en/of kulturele groepsidentiteit is. Victor Webb noem dat navorsing aantoon dat effektiewe leer slegs plaasvind in ’n omgewing waar leerders se kulturele identiteit – soos gesimboliseer in hulle moedertaal – binne die leeromgewing erken en gerespekteer word. Aan die ander kant voel leerders dikwels kultureel uitgesluit in omgewings waar hulle nie deel vorm van die meerderheidkultuur nie.

Die oorskakeling na onderrig in Engels by veral hoëronderwysinstellings word verder dikwels vergoeilik met argumente dat Engels ’n “neutrale taal” is wat nasiebou sou bevorder. Die teendeel is eerder waar. Die grootskaalse gebruik van Engels as onderrigtaal verdiep eerder ongelykhede tussen die elite – wat Engels beter magtig is – en die massas wat Engels swak praat of glad nie ken nie. Suid-Afrikaanse navorsing het verder aangetoon dat Afrikaanssprekende Unisa-studente wat in Afrikaans gestudeer het, nie alleen sterk met hulle eie etniese groep geïdentifiseer het nie, maar ook sterker met Suid-Afrika en Afrika, asook met alle groepe in Suid-Afrika.

Ouers, leerders en studente moet hulle gevolglik nie deur allerhande mites aan die neus laat rondlei nie. Hulle behoort hulle keuses eerder te baseer op oorwegings wat leerders en studente se maksimale opvoedkundige ontwikkeling ten doel het. Sodoende sal hulle latere suksesvolle deelname aan die ekonomie ten beste bevorder word. Daar kan min twyfel wees dat onderrig in Afrikaans hierdie ideale ten beste kan verwesenlik.

Prof. Elirea Bornman is ’n kommunikasiewetenskaplike voorheen verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Soortgelyke plasings