Orania se planne om stad te word vorder goed
Die boodskap by vandag se Orania Stadsboukonferensie in die AfriForum Teater was dat die droom vir die Noord-Kaapse dorp om ’n stad te word, is nie net planne nie, maar is besig om ’n werklikheid te word. Dié dorp is in 1991 gestig met die gedagte om ’n veilige tuiste vir duisende Afrikaners te skep.
Die dorp se inwonertal het die afgelope paar jaar met meer as 10% per jaar gegroei en behoort voor die einde van 2023 die 3 000 kerf oor te steek. ’n Nuwe rioolaanleg is onlangs in gebruik geneem wat vir tussen 10 000 en 14 000 inwoners voorsiening maak. Die sonkragaanleg in Orania sal eersdaags ook met fase twee en drie uitgebrei word om dié dorp deur die dag vry te stel van beurtkrag.
“Orania het in 2021 die grootste Afrikanerdorp in die Bo-Karoo geword. Die idee van Orania is ’n geloofwaardige een, geskoei op gekonsentreerde vestiging waar almal met die plan help. Daar moet ’n plek wees waar Afrikaners die demografiese meerderheid het om die voortbestaan van die kultuur te verseker,” sê Frans de Klerk, hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.
Wat die suksesstorie van Orania merkwaardig maak, is dat geen fondse of hulp van die staat ontvang word nie. Dienste word gelewer met fondse wat uit heffings geïn word. Gemiddeld 125 nuwe erwe word jaarliks uitgelê, maar die aanvraag na erwe en blyplek in Orania oorskry steeds die tempo waarteen die dorpsraad voorsiening kan maak. Bouers in die dorp kan ook nie voorbly nie.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is Orania een van die alternatiewe wat oorweeg kan word om oplossings te bied. “In Suid-Afrika het ons nie ’n ander keuse as om self te doen nie. Ons word gedryf deur ’n liefde vir ons medemens, kultuur en instansies wat werk. Die ANC-regering trek die land die verlede in en teen hierdie agtergrond verdien Orania ernstige oorweging.”
Orania is op verskeie maniere die oplossing. Dit skep onder meer ’n ruimte waar die Afrikaner-kultuur veilig uitgeleef kan word en is die werkende streekdorp wat die Noord-Kaap en die Vrystaat nodig het. Soos die groter Solidariteit Beweging streef Orania ook na groter selfbestuur en federalisme.
“Die ANC-regering klou aan ’n sentralistiese plan wat tot baie van die probleme in Suid-Afrika lei. Die risiko om te wag vir die regering om met oplossings vorendag te kom, is groter as die risiko om te waag om iets self te doen. Ons het in die verlede onder veel moeiliker omstandighede al kolleges en universiteite gebou en ons kan dit weer doen. Ons kan nie net sit en kyk hoe die land verval en ons kinders die slagoffers van die verval word nie,” sê Buys.
Deeglike beplanning vir die verdere uitbreiding van Orania het ’n verdere hupstootjie gekry met die aanstelling van die argiteksfirma NewUrban om verdigting moontlik te maak sonder dat Orania sy karakter verloor. Daar word byvoorbeeld beplan om Orania ’n loopbare stad te maak waar verskeie dienste binne 20 minute se stap bereikbaar is en die gebruik van motors grootliks beperk kan word.
“Die gedagte agter die loopbare stad is dat ons Orania vir mense wil ontwerp eerder as vir voertuie. Orania moet behuising aan alle inkomste-groepe voorsien, maar soos ons behuising aanbou moet ons seker maak dat landbou behoue bly en met ander planne geïntegreer word,” sê Gerrit Jordaan, argitek en stedelike ontwerper van NewUrban.
Gawie Snyman, uitvoerende hoof van die Orania-dorpsraad, sê die dorp is ’n plek waar mense hul Godgegewe roeping uitleef en mekaar dien deur God eerste te dien. “As ons die basiese goed reg doen, sal ons ekonomiese groei kry. Ons glo in eie grond, arbeid en instellings, maar ons handhaaf ook goeie verhoudings met ander groepe,” sê hy.
Snyman se raad aan mense wat na Orania wil verhuis is om vroeër eerder as later ’n erf te bekom en ’n huis te bou aangesien kostes jaar na jaar net toeneem. Ander groot projekte wat tans in beplanning is, is die bou van ’n hospitaal en die uitbreiding van die lughawe of selfs die aanbou van ’n nuwe een.