|

Optog en groot stryd kom nog oor Bela

Verteenwoordigers van nagenoeg 50 organisasies en meer as 70 skole het vandag se Bela-beraad in Pretoria bygewoon om die pad vorentoe te bespreek om die Wet op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) teen te staan. Pres. Cyril Ramaphosa het dié wet reeds onderteken, maar het drie maande uitstel gegee vir spesifiek twee klousules sodat daar nog daaroor vergader kan word. Dié twee klousules handel oor skole se taal- en toelatingsvereistes en wie daaroor kan besluit.

Die Bela-wet word uit verskeie oorde beskou as die grootste bedreiging wat Afrikaanse skole nog moes trotseer aangesien dit onder meer ouerinspraak ondermyn en die voortbestaan van die Afrikaanse skole en kultuurgemeenskappe bedreig.

“Die probleem met die skoolstelsel is in elk geval nie een van taal nie, maar eerder een van onderwys. Afrikaanse skole lewer steeds uitstekende onderrig en hoekom dan nou hierdie skole teiken eerder as om skole wat nie goed funksioneer nie, op peil kry nie,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, noem ook dat Afrikaanse skole hoë standaarde handhaaf terwyl die tendens vir baie ander skole in die teenoorgestelde rigting neig. “Afrikaanse skole het roepingsgedrewe onderwysers en ouers wat ernstig oor gehalte-onderrig is. Ons moet dit beskerm, want dit gaan hier oor ’n stryd vir ons taal en kultuur. Baie van wat die regering oor die Bela-wet sê klink heel redelik en belowend en daar is selfs ’n appèlproses wat gevolg kan word as die skool nie met die departement se besluite saamstem nie, maar uiteindelik is dit die provinsiale LUR wat die finale sê het.

“Daar is net twee goed wat ons kan doen om die voortbestaan van gehalte-onderrig in Afrikaans te verseker en dit is om huidige Afrikaanse skole te beskerm en tweedens om bekostigbare en uitnemende privaat skole te bou.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Connie Mulder, hoof van Solidariteit Navorsingsinstituut, sê die Departement van Onderwys misluk al die afgelope 15 jaar en probeer Afrikaanse skole gebruik om hul tekortkominge toe te smeer. “Die ANC-regering belowe al jare lank om skole te bou, maar daar is tans minder skole as wat die geval was in 2009. Daar is ook al verskeie kere uit ANC-geledere gesê daar is nie meer plek vir enkelmediumskole nie. Die Bela-wet is niks anders as ’n staatsgreep op Afrikaanse skole nie.”

Connie Mulder, hoof van Solidariteit Navorsingsinstituut

Siviwe Gwarube, minister van Basiese Onderwys, het ook die geleentheid bygewoon en sê dialoog is nodig om by ’n oplossing te kom wat almal se behoeftes bevredig. “Daar is gemeenskappe wat oor sekere klousules van die wet ontevrede is, maar ek glo die uitdagings om oplossings te vind, is nie onoorkombaar nie.”

Gwarube sê sy het reeds oor sekere aspekte van die Bela-wet met Ramaphosa gepraat, wat onder meer die bekostigbaarheid van gr. R-onderrig vir alle Suid-Afrikaanse kinders ingesluit het.

Siviwe Gwarube, minister van Basiese Onderwys

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen die ANC-regering is met die Bela-wet besig om ’n voet oor die rooilyn te sit. “Ons skole is belangrik en hierdie is nie ’n klein dingetjie nie. Ons sal ons skole met alles wat ons het beskerm. Dis belangrik om druk op die regering te hou, want ons wil nie bedel vir iets nie, maar eerder daarvoor beding.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

’n Aantal resolusies is verder by die beraad geneem. (Lees meer hier.) Die Solidariteit Beweging beplan ook ’n massaoptog op 5 November om teen die Bela-wet protes aan te teken. Hou AfriForum en die ander organisasies se sosialemediaplatforms dop vir meer besonderhede.

* Klik hier om die moontlike implikasies van die Bela-wet, soos voorsien word deur instellings van die Solidariteit Beweging, te lees.

Soortgelyke plasings