|

Opgedateerde onderwyswetgewing is nodig, maar Bela is nie die antwoord nie

Reeds sedert 2017 is die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) in die spervuur. Aan die een kant is dit aangeprys as die oplossing vir vele onderwysuitdagings in die land en aan die ander was daar vele besware teen die inhoud. Selfs nadat dit op 13 Desember 2024 deur president Cyril Ramaphosa gepromulgeer is, duur die debat voort.

Die onlangse artikel op Netwerk24, Daar is 56 redes waarom Bela nodig is deur prof. Michael le Cordeur, emeritus professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, is ’n voorbeeld in dié verband. Dit kom voor asof Le Cordeur die wet ontleed, gebaseer op teorie, en dus nie fout daarmee kan vind nie, maar ongelukkig laat hy verskeie praktiese feite buite rekening. Weer eens skuil die duiwel in die fynere besonderhede.

Dat onderwyswetgewing van tyd tot tyd hersien moet word, is wêreldwyd ’n aanvaarde en noodsaaklike praktyk, soos hy tereg ook in die artikel noem. Hier tref ons egter die eerste knelpunt aan. Die wetsontwerp is reeds in 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer. Intussen het die onderwyslandskap ingrypend verander. Dink byvoorbeeld aan die Covidjare en hoe aanlyn onderrig daartydens ’n realiteit geword het. Bela laat dit buite rekening, wat daarvan reeds by promulgering ’n verouderde wet maak.

Tweedens word beweer dat Bela geskep is om die Suid-Afrikaanse Skolewet (84 van 1996) wat sogenaamd diskriminerend is, te vervang. Dit is vreemd, aangesien die Skolewet uit 1996 dateer, wat al ’n lang tree binne die nuwe bestel in Suid-Afrika was en dus baie skerp daarop gefokus het om nie diskriminerende inhoud te bevat nie.

Oor die twee omstrede klousules wat oor beheerliggame se magte met betrekking tot skole se taal- en toelatingsbeleide handel, is veel al gesê, maar in reaksie op die genoemde artikel net ’n paar idees.

Eerstens blyk dit asof jou huisadres deesdae die belangrikste oorweging vir die skool naaste aan jou moet wees. As dit nie onderrig in jou voorkeurtaal aanbied nie, rus die onus nou op die skool om sy beleid aan te pas, en nie op jou ouers om jou by ’n skool wat aan jou taalvoorkeur beantwoord, te besorg nie. Afrikaanse skole is oorvol. Waar skole nie vol is nie, is dit al sedert die hofuitspraak in die saak oor Hoërskool Ermelo se taalbeleid (2009) die geval dat skole dan leerders wat Engelse onderrig verkies inneem en dubbel- of parallelmediumonderrig aanbied. As leerders diskriminerend weggewys word, het die ou Skolewet duidelik stappe uiteengesit om die beheerliggaam vas te vat en die leerders se belange te beskerm. Geen nuwe wetgewing was hiervoor nodig nie. As dit nie geskied het nie – en ons is nie bewus van so ’n geval nie – was meer effektiewe uitvoering van hulle pligte deur amptenare van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) nodig. Geen wet gaan helaas op sy eie professionaliteit en werksprestasie verbeter nie. 

Wanneer die DBO se amptenare besluit om skole se beleide te verander, vind Le Cordeur dit gerusstellend dat dit eers konsultasie met die beheerliggaam sal geskied, maar “ konsultasie” is niksseggend. Dit beteken bloot beide partye lug hulle opinies teenoor mekaar. Die amptenary hoef glad nie die mening van die beheerliggaam in die finale besluit te akkommodeer nie. As dit “in konsultasie” sou geskied, was dit ’n ander saak, want dit sou beteken dat konsensus eers bereik moes word. Dink maar aan die openbare konsultasie oor Bela – daar was jare lank en op vele platforms oorweldigende teenkanting teen verskeie aspekte van die wetsontwerp, en tog staan daardie klousules steeds in die wet wat gepromulgeer is … konsultasie.

Nog ’n mite is dat Bela skole gaan help om te transformeer. Geen leerder mag volgens die ou wet op grond van ras geweier word nie, so ek veronderstel dat ons dan nou hier van taaltransformasie praat, wat in effek die beëindiging van moedertaalonderrig beteken. Wêreldwyd is dit oor en oor bewys dat dubbel- of parallelmediumskole oplaas enkelmedium skole in die sterkste van twee tale word. In Suid-Afrika se geval is dit Engels – geen ander Suid-Afrikaanse taal is sterker as Engels nie.

In die uitspraak van die Vrystaatse hooggeregshof in die taalbeleidsaak van AfriForum teen die Universiteit van die Vrystaat het die regters ’n belangrike feit genoem wat ideoloë gerieflikheidshalwe ignoreer, naamlik dat die skrywers van die Grondwet baie duidelik van taal en ras bewus was. Hulle het geweet dat die meerderheid leerders aan ’n onderriginstelling wat Afrikaans verkies, bruin en wit sal wees, maar dit het nie beteken dat hulle Afrikaanse onderriginstellings verbied het op grond van ’n gebrek aan transformasiepotensiaal nie. Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) beklemtoon ook deurlopend dat ’n keuse vir moedertaal- en kultuurspesifieke onderrig nie as diskriminasie of rassisme beskou mag word nie, maar die uitlewing van beskermde taal- en kultuurregte behels. Enige diskriminering daarteen is juis onwenslik. Die voorstanders van Bela ignoreer egter hierdie kenners.

Selfs al sou ’n mens die twee mees omstrede klousules buite rekening laat, geld meer kritiek teen Bela steeds, waarvan ek enkele punte noem.

Die reg op onderwys is belangrik, maar ouers wat kinders uit die skool hou, kan nou kriminele rekords kry. Dit klink positief, maar wat van die werklose ouer tientalle kilometers ver van enige skool in ’n land waar staatsgesubsidieerde vervoer na skole meestal ontbreek en ander vervoer duur of gevaarlik is?

Vroeë kinderontwikkeling word voorgehou as die jongste kitsoplossing vir ons leerders se gebrek aan prestasie. Verpligte graad R-bywoning skep ook die vraag – wat van die plattelandse ouer tientalle kilometers van die naaste skool af? Is die oplossing kosskool op 5 of 6? Of peperduur vervoer daagliks? Die onderwysbegroting klop nie en onderwysers staar gevolglik uitdiensstelling in die gesig, maar duisende graad R-onderwysers sal nou aangestel moet word en infrastruktuur by skole ontwikkel word om die bepaling moontlik te maak. Sommige skole het graad R-klasse, maar beslis nie almal nie. En bywoning van graad R gaan nie wanfunksionele skole skielik funksioneel maak nie.

Die sluiting van plattelandse skole wat Le Cordeur as ’n stap na beter geleenthede beskou, dompel vele kinders in afgeleë areas in groter ellende. Daar is die reeds genoemde vervoerkwessie, maar saam met die sogenaamde beter infrastruktuur (wat ek ernstig betwyfel in baie streke) kom groter klasse en minder aandag per kind. Soms het kleiner skooltjies ook ‘n ander taalbeleid as die groot skool gehad, of is die provinsie nie in staat om selfs meubels en ander hulpbronne vir die groter leerdertal te voorsien nie.

Dit is nodig om tuisonderrig te reguleer en te verseker dat leerders se prestasie op dieselfde vlak as hulle eweknieë in skole is, maar van die maatreëls word as drakonies beskou. Hieroor is baie te sê, maar die realiteit dat tuisonderrig ’n onlosmaaklike deel van die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap geword het en leerders met puik prestasies oplewer, kan nie ontken word nie. In plaas daarvan dat die DBO dit as positief probeer ondersteun, skep Bela se bepalings die indruk dat dit negatief benader word.

Wat die bestuur van wangedrag aanbetref, het Bela die potensiaal om sake verder te kompliseer. “Lyfstraf” wat verbied word, sluit nie alleen fisiese aksies in nie, maar ook “enige handelinge wat poog om ’n leerder te verkleineer, verneder, dreig, vrees by die leerder in te boesem of die waardigheid en persoon van ’n leerder te spot”, aldus klousule 1(h)(d) van Bela. Hierdie omskrywing kan baie wyd geïnterpreteer word en tot ernstige verskille en selfs regsaksie lei.

Opsommend dus, wetgewing alleen kan weinig sake positief verander, veral as dit nie die realiteite in ag neem van die mense wat dit veronderstel is om te dien nie. Soos Le Cordeur noem, klink baie dele van Bela lofwaardig, totdat jy die lyne tussen die bepalings en die werklikheid begin trek. Suid-Afrikaanse kinders verdien beter. Hulle het wetgewing nodig wat op die jongste navorsing, ontwikkeling en tegnologiese hulpmiddels gebaseer is, nie wetgewing wat deurgedruk word om kiesers tevrede te hou nie.

Die groot probleme wat die onderwysstelsel kniehalter, soos onderwysers met gebrekkige kwalifikasies, onvoldoende infrastruktuur, onderwyspersoneel wat nie aanspreeklik gehou word vir oortredings en wanprestasie nie, die verlaging van standaarde om slaagsyfers goed te laat lyk, die voorkoms van geweld en vandalisme op skoolterreine, onbehoorlike inmenging deur onderwysvakbonde, probleme met die kurrikulum, vervoer na skole, onbetrokke ouers, ’n gebrek aan moedertaalonderrig, verlammende administratiewe pligte wat onderrigtyd beperk en begrotingstekorte, om maar enkele knelpunte te noem, gaan nie deur Bela verbeter word nie. In teendeel, Bela gaan van die probleme net verder vererger.

Die tyd wat sedert 2017 aan Bela gewy is, sou veel beter bestee gewees het as dit op hierdie sake gefokus het, maar vele daarvan is politieke turksvye en daarom is dit makliker om ’n wet te promulgeer en aan die goedgelowige kieser te verkondig dat die goue daeraad van uitnemende onderwys nou daarmee aanbreek.

* Alana Bailey is die hoof van Kultuursake by AfriForum. Hierdie artikel het oorspronklik op Netwerk24 verskyn.

Soortgelyke plasings