Oos-Kaapse vuurwapeneienaars onder beleg: AfriForum tree in die bresse

AfriForum verwelkom die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat, onder andere, die Suid Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) beveel het om een van dié burgerregteorganisasie se lede se vuurwapens onmiddellik aan hom terug te besorg.

Dit volg nadat daar ongeveer 1 700 niksvermoedende lede van die publiek by Karen Webb in Gqeberha wapenbehendigheidsopleiding ontvang het. Webb word glo by verskeie misdade betrek. Weens die ondersoek teen Webb is daar beslag gelê op onder meer ’n AfriForum-lid, Jacques Verwey, se vuurwapens. Dié lid is deur AfriForum se regspan bygestaan in hierdie suksesvolle hofaansoek. AfriForum is van mening dat die reg sy gang moet gaan ten opsigte van Webb, maar dat onskuldige landsburgers nie lukraak en sonder goeie rede van hul vuurwapens ontneem moet word nie.

Volgens AfriForum se regs-en-risikobestuurder, Marnus Kamfer, is dit skokkend dat die betrokke polisielede nie basiese administratiefregtelike begrippe toepas nie.  “Dit is ’n geykte regsposisie dat ’n besluit, soos om ’n lisensie toe te ken, bly staan totdat ’n behoorlike regsproses dit tersyde stel,” sê Kamfer.  “Die polisiebeamptes kan nie eensydig net ’n mening uitspreek dat die persone nie vuurwapens mag besit nie.  Die optrede druis in teen basiese grondwetlike beginsels en die oppergesag van die reg.”

Die hof het beslis dat selfs in omstandighede waar ’n persoon sy vuurwapens vrywillig sou ingee nadat hy vals inligting van die polisie verkry het, die polisie steeds ’n regsbasis benodig om die vuurwapens te mag ontvang en te hou.

“Dit is skokkend dat die belastingbetaler se geld gemors is om die saak te opponeer.  In die hof moes die polisie se regslui toegee dat daar geen regsbasis is om die wapens te hou onder omstandighede waar hul Verwey nie van ’n misdaad wou aankla nie,” voeg Kamfer by. 

AfriForum sal nou ’n skrywe – wat die hofbevel as aanhangsel bevat – aan onder andere, die minister van Polisie, Senzo Mchunu en die Nasionale Kommissaris van die SAPD, gen. Fannie Masemola, tesame met die plaaslike polisiekantore rig om dringend toe te sien dat die vuurwapens van al die geaffekteerde persone teruggee word, wat wettig in besit daarvan was. Die hof het immers ook in die uitspraak bevind dat  Verwey se lisensies steeds geldig is. 

Indien daar nie na wense op die skrywe reageer word nie, sal AfriForum sy regspan tot die beskikking van die ander geraakte lede van die publiek stel om die hof op ’n soortgelyke wyse te nader. Dit sal die staat baie geld uit die sak jaag indien al die geaffekteerde persone die hof op die wyse sou nader. 

Die hof het gelas dat die betrokke polisie respondente, wat die stasiebevelvoerder op Paterson, Konstabel Yija en Sersant Van Rensburg insluit, die regskoste moet betaal.

Soortgelyke plasings