Oor taal en professionaliteit
November is ’n dol maand met baie wat afgehandel moet word voor Desember, asook nog meer wat beplan moet word voor Januarie. Deur die harwar heen, is dit ’n goeie tyd vir terugskouing en besinning.
’n Geleentheid vir sodanige besinning was ’n simposium van Akademia op 16 November vanjaar. Die tema was “Die stand van Afrikaans in die regswese”. Daar is ook gekyk na die posisie van ander inheemse tale in die opleiding van regslui en verskillende aspekte van regswese in die land. Dit was deurlopend duidelik dat Engels tans die terrein oorheers, maar dat die behoefte vir die gebruik van ander tale groei. Verder neem senior regslui se insig oor die belangrikheid van taalregte toe, wat positief is.
Een van die teenwoordiges het aangedui hoe skerp die behoefte aan akteregistrasies in Afrikaans afneem. Ek glo as die tema anders was en die sprekers rekenmeesters, sou hulle ’n soortgelyke daling in die aanvraag vir Afrikaanse finansiële state kon aantoon.
Dit verduidelik ten dele waarom mense glo dat hulle in Engels moet studeer – maar wie se skuld is dit? Dit sal maklik wees om net die staat te blameer, maar daar moet net so skerp na ons as Afrikaanssprekendes se rol gekyk word.
Met 1994 se oorgang was daar egter individue en ondernemings wat hulle Afrikaanse wortels ten alle koste wou ontken om meer aanvaarbaar vir die nuwe bestel te probeer wees. Deel van die transformasieproses was om met ’n nagemaakte Britse of Amerikaanse aksent te verklaar “I do not speak Afrikaans”.
Hierdie oikofobie is verder aangewakker deur mense wat wou wraak neem weens iets waarvoor hulle die Afrikaanse gemeenskap verantwoordelik gehou het. Soms was dit ideologies, ander kere klein persoonlike vetes wat mense genoop het om voorpraters van die wonder van Engelse eentaligheid te word.
In instellings waar Afrikaans eens gekoester is en waar dit ’n bate was, is buitelandse personeel aangestel wat geen belang by enige inheemse taal het nie, maar juis baat vind by ’n eentalige Engelse opset. Hulle het dan energiek ingespring om teenkanting teen Afrikaans verder aan te wakker en in die proses ook die vordering van ander inheemse tale te kniehalter. Verskeie Suid-Afrikaanse universiteite kan as voorbeelde hiervan genoem word.
Ek onthou byvoorbeeld die eerste oudit van AfriForum. Ons het op ’n maatskappy besluit en hulle gevra om die ouditverslag in Afrikaans op te stel. Hulle was verdwaas. Niemand het dit nog ooit gevra nie en hoe sou hulle weet wat al die terme in Afrikaans is, het hulle gevra. Kallie Kriel het voet by stuk gehou en hulp met die vertaling aangebied. Kort daarna het hulle die state in netjiese Afrikaans gelewer – hulle wou AfriForum immers as kliënt behou. Mettertyd het hulle vertel dat die vermoë om in Afrikaans diens te lewer, iets is waarby hulle in hulle bemarking baat. In al die jare was daar ook nog geen klag van enige amptelike instelling by wie AfriForum state moet indien oor die feit dat dit in Afrikaans is nie.
Tog is dit die persepsie wat bestaan: “SARS gaan nie Afrikaanse state aanvaar nie”, of “die bank gaan nie my huislening toestaan as ek ’n Afrikaanse kontrak aanvra nie”.
As ons ons taal wil red, moet ons aandring op Afrikaans. Soms gaan ons onsuksesvol wees, maar veral in ’n posisie waar ons die klant of kliënt is, het ons bedingingsmag en moet ons dit aanwend. As ons ondernemings het, moet ons moeite doen om ons twee- of meertalige dienslewering aan die publiek bekend te maak, byvoorbeeld met briefhoofde, fakture, kontrakte, ondernemingsname en outomatiese telefoonboodskappe wat meertalig is.
Die redes sluit die persepsie in dat meertaligheid duur is, maar in der waarheid bou dit juis ’n meer lojale kliëntebasis vir jou wanneer jy klante of kliënte in hulle eie taal aanspreek. Verder skakel dit duur foute weens miskommunikasie en vertaalfoute uit.
Om professioneel te wees, is nie gelyk aan Engels wees nie. Dit beteken dat jy moeite doen om uit te vind wat die taal van diegene is met wie jy professioneel kommunikeer en om daardie taal te gebruik. Dit geld veral as jy afhanklik van die persoon of instansie se welwillendheid is, soos wanneer jy ’n diens bemark, ’n beurs- of werksaansoek wil doen.
By die bogenoemde Akademia-simposium het ’n spreker vertel van ’n Xhosa student wat getuig het hoe hy wens sy gemeenskap kan ’n Xhosa instelling skep “soos Akademia wat deur die Afrikaners gebou is”. Dit is ’n pragtige getuigskrif vir ons gemeenskap en skep belowende geleenthede vir samewerking met ander taalgroepe in die land en selfs verder.
Dit bewys egter ook weer die verantwoordelikheid wat op ons skouers rus om self aan ons taal te bou en ruimte daarvoor op alle lewensterreine te skep.