|

Onwettige storting in Pretoria toenemend ’n probleem, moet saam gepak word – AfriForum

AfriForum het in ’n skrywe aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit versoek dat onwettige storting, wat toenemend ’n probleem in groot dele van Pretoria is, so gou moontlik en in samewerking met burgerlike organisasies gepak moet word. Onwettige storting van vullis het nie net ’n nadelige uitwerking op die omgewing nie, maar bedreig ook die gesondheid en veiligheid van die breër gemeenskap.

In die brief het AfriForum benadruk dat onwettige storting ’n kritieke punte bereik het. Die burgerregteorganisasie het die Tshwane-metro versoek om sy planne bekend te maak om die probleem te bekamp, asook enige stappe wat gedoen gaan word om onwettige storting te voorkom.

“AfriForum is oortuig daarvan dat ’n doeltreffende strategie deur die metro en samewerking met gemeenskapsrolspelers noodsaaklik is om die situasie te beredder,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

AfriForum het opnuut sy bereidwilligheid om die munisipaliteit by te staan, ten toon gestel deur aan te bied om probleemareas te identifiseer wat eerste getakel moet word. AfriForum-buurtspanne in Pretoria het in 2024 nagenoeg 15 517 sakke vullis verwyder en 43 560 kg se vullis herwin. AfriForum gaan veral vanjaar daarop fokus om die onwettige storting van vullis in Pretoria en omliggende gebiede hok te slaan.

“AfriForum glo dat dit van kardinale belang is om proaktief op te tree. Die behoud van ’n skoon en veilige omgewing is in die belang van al Pretoria se inwoners. Samewerking kan ’n groot verskil maak om onwettige storting te pak. AfriForum se takke en gemeenskapslede het reeds ’n deeglike kennis van die areas wat die ergste geraak word, en is gereed om praktiese ondersteuning aan die munisipaliteit te bied,” sê Hemmens.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om onwettige storting aan te meld en deel te neem aan opruimingsinisiatiewe. Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om druk op owerhede te plaas om hulle volle aandag aan hierdie probleem te gee.

Soortgelyke plasings