|

Onttrekking van SAUK-wetsontwerp bied gulde geleentheid vir nuwe rigting by uitsaaier – AfriForum

Tensy die regering toelaat dat die SAUK binnekort geprivatiseer word, verhaas die onttrekking van die SAUK-wetsontwerp (B32-2023), oorspronklik ontwerp om die televisie-uitsaaier se strukturele, finansiële en operasionele uitdagings die hoof te bied, net die onvermydelike. Dít is waarom AfriForum die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, versoek om hierdie geleentheid te gebruik om ’n nuwe pad by die SAUK in te slaan – een van privatisering en die wegdoen van TV-lisensies.

Die burgerregteorganisasie het vroeër vanjaar skriftelike sowel as mondelingse voorleggings aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie voorgelê waarin AfriForum aangedring het op privatisering en die wegdoen van TV-lisensies.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, deel die organisasie minister Malatsi se sentiment dat die wetsontwerp nie aan die SAUK se “fundamentele behoefte aan ’n lewensvatbare befondsingsmodel” aandag gee nie.

“Minister Malatsi en AfriForum is op dieselfde bladsy oor die feit dat die wetsontwerp se benadering die gevaar loop om verouderde befondsingsmeganismes, soos die mislukte TV-lisensiemodel, voort te sit. Die tyd is ryp vir ’n nuwe, alternatiewe, nie-staatsentriese benadering. AfriForum hoop die minister maak ’n ingeligte besluit wanneer hy ’n nuwe, volhoubare finansieringsmodel vir die SAUK skep – een wat die belangrikheid van privatisering beklemtoon. Dis die enigste manier om die krisis by die SAUK om te keer,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings