|

Onteieningswet plaas eiedomsreg in gedrang

Ná ’n vyf jaar lange proses van openbare raadpleging, debatte en dreigemente oor hofsake, het pres. Cyril Ramaphosa gister (23 Januarie) die Onteieningswet onderteken. Dié wetsontwerp is voor die 2024-verkiesing reeds deur die Nasionale Vergadering (NV) aanvaar en maak die onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding moontlik.

Die wetsontwerp bepaal dat sowel roerende as onroerende eiendom, soos intellektuele eiendomsbesit, geraak word. Luidens ’n verklaring deur die Presidensie gaan hierdie wet plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede in staat stel om vir verskeie redes grond (eiendom), wat in openbare belang is, te onteien.

AfriForum is sedert die ontstaan van dié wetsontwerp gekant daarteen en het aan elke proses deelgeneem totdat dit deur die NV aanvaar is. Die organisasie het toe reeds aangedui dat dit tot regsaksie sal oorgaan indien die wetsontwerp onderteken word. Volgens die AfriForum het die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) met die ondertekening van hierdie wetsontwerp ’n wesenlike bedreiging vir die reg op privaat eiendom in die land moontlik gemaak.

“AfriForum sal alles in die stryd werp om burgers teen onteiening sonder vergoeding te beskerm. Die ondertekening van die Bela-wet en nou die Onteieningswetsontwerp, dui daarop dat die ANC in werklikheid probeer om die RNE te gebruik om die voormalige opposisiepartye te koöpteer om die ANC te help om elkeen van sy vernietigende beleide deur te voer,” sê Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het intussen ’n beroep op Dean Macpherson, minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, gedoen om te weier om die wet ook te onderteken. Volgens Kriel sal Macpherson se ondertekening van die wet Ramaphosa en die ANC toelaat om ’n bespotting van die RNE te maak.

Machpherson is die hekwagter van dié wet en het te kenne gegee dat hy die wetsontwerp sal gebruik om eiendomsreg te beskerm. Hy het op die sosialemediaplatform X gesê dat daar geen onteiening van privaat eiendom onder sy leierskap as die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur sal wees nie.

Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Ramaphosa nie die RNE voor die ondertekening gekonsulteer nie. “Die VF Plus is daarvan oortuig dat die wet ongrondwetlik is en dat dit Suid-Afrika se ekonomie en stabiliteit ernstig kan benadeel.”

Hy het voorts gesê dat een van die belangrikste hoekstene van ’n vryemarkstelsel die reg op privaat grond- en eiendomsbesit is. Hierdie wetsontwerp is niks anders nie as onteiening sonder vergoeding en plaas alle eiendomsbesit in die gedrang.

Die DA het, net soos die VF Plus, aangedui dat hulle teen die ondertekening en inwerkingstelling van die Onteieningswet is en dat hulle dit in die howe sal betwis.

Verskeie landbou- en ander organisasies het aangedui dat hulle bekommerd is oor eiendomsreg en voedselsekerheid in die land ná die ondertekening.

Volgens Saai is grondeienaars en ander beleggers nou uitgelewer aan korrupte amptenare wat oor die 30 jaar van kaderontplooiing ’n reputasie van stroping, misbruik en nepotisme opgebou het. Dit gaan volgens die organisasie nie nou verander nie. Saai het in ’n verklaring gesê dat die wet wye onteieningsmagte aan provinsiale en plaaslike owerhede gee, waar korrupsie, wanadministrasie en nepotisme die ergste is. “Die ondertekening van die Onteieningswet is slegte nuus vir elke boer, vir beleggersvertroue, vir die RNE en vir Suid-Afrika,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

TLU SA is ook sterk teen die Onteieningswet gekant en het ’n beroep op die regering gedoen om die gevaarlike implikasies van die Onteieningswet te oorweeg en dit onmiddellik te herroep. Volgens die organisasie hou die regering die wet voor as ’n instrument vir transformasie en in openbare belang, maar die werklikheid is dat dit verreikende negatiewe gevolge vir voedselsekerheid, beleggersvertroue en ekonomiese stabiliteit sal hê.

“Terwyl die meeste Suid-Afrikaners sukkel om die land se ekonomie aan die gang te kry, bly die regering steeds vasgevang in ’n oorwinning van ideologie bo ekonomiese realiteite,” het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, gesê.

TLU SA is van mening dat die grys areas van die wet voorsiening maak vir misbruik, korrupsie en onregverdige praktyke, wat grondeienaars en eienaars van enige ander eiendom van alle agtergronde in onsekerheid dompel.

“Hierdie is nie net ’n landboukwessie nie, dit raak elke burger se reg op eiendom en die toekoms van ons land. Suid-Afrika verdien beter as ’n beleid wat die grondslag van ons ekonomie en voedselproduksie in gedrang bring.”

Soortgelyke plasings