Ondanks AfriForum-hofsaak wat oor Ngwathe se kop hang, heers chaos in Parys
Die inwoners van Parys is vuisvoos gesukkel met die gebrekkige dienslewering wat meer onlangs daartoe gelei het dat hulle tydens ’n hittegolf sonder krag of water gelaat is. AfriForum het vandag ’n klagte oor dié en ander growwe menseregteskendings by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien en verlede week ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree wanneer ’n munisipaliteit, soos die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, nie sy pligte nakom nie en die munisipaliteit onder administrasie plaas. Uitspraak in hierdie saak word in Januarie verwag.
Ondanks die feit dat dié swaard oor die Ngwathe-munisipaliteit se kop hang, gaan dit net al hoe slegter in Parys. Die inwoners het te midde van ’n bloedige hittegolf selde water gehad en die kere wat daar wel water was, was dit bruin en ongeskik vir menslike gebruik. Om die situasie te vererger, was daar ook groot probleme met die elektrisiteitstoevoer weens substasies wat gevandaliseer was.
“Die haglike stand van sake kan toegeskryf word aan verskeie faktore,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek. “Daar is ’n onwilligheid by munisipale amptenare om die probleme na behore op te los. Om alles te kroon, word enige kundige nou toegang tot die watersuiweringswerke geweier. Selfs raadslede mag nie ingaan nie.”
AfriForum het vroeër vanjaar ’n ooreenkoms gesluit, wat deur ’n interdik bevestig is, wat stipuleer dat die burgerregteorganisasie enige tyd toegang tot die werke mag verkry. Nou word die broodnodige kundigheid en vaardighede wat AfriForum bied, weggehou. AfriForum ontvang ook geen kommunikasie oor die stand van sake vanaf die munisipale bestuurder nie. Daar is ook eens op ’n tyd ooreengekom dat die munisipaliteit gereelde vergaderings met belanghebbendes sou hou, maar dit is skynbaar ook nou iets van die verlede.
“Die gemeenskap van Parys is vuisvoos. Water is ’n basiese mensereg en tans word die mense van hierdie dorp daarvan ontneem. AfriForum bied gereeld sy hulp aan, maar hierdie hand word eenvoudig weggeklap,” sê Pretorius.
Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, het hierdie bestuur ’n goeie verhouding met die munisipaliteit gehad tot op hierdie punt. “AfriForum se insette word totaal geïgnoreer, ondanks die feit dat die groot probleem by die lekkasies lê wat nie aandag geniet nie omdat die munisipaliteit swak bestuur word. Die situasie word boonop vererger met dié dat amptenare rondgeskuif en onbevoegde aanstellings gemaak word.”
AfriForum het in sy hofaansoek daarop gewys dat die munisipaliteit onder meer versuim om sy administrasie, begroting en beplanningsprosesse behoorlik te struktureer en te bestuur en as gevolg daarvan nie volhoubare dienste aan die gemeenskap kan lewer nie. Daarom het die burgerregteorganisasie versoek dat hy toegelaat word om onder meer met die administrasie van die water- en rioolwerke help.
Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture, sê dis nou die tyd dat die vierde regeringsfeer inskop en kundige gemeenskapslede intree om dienslewering in die munisipaliteit te verbeter.
In ’n poging om verdere druk op die munisipaliteit te plaas om volhoubaar dienslewering te lewer, moedig AfriForum inwoners aan om ’n klagte by die MRK te lê oor die huidige stand van sake. Besoek www.sahrc.org.za/lodge-complaints om ‘n klagte in te dien.