Onbekwaamheid of sameswering – AfriForum se privaatvervolgingseenheid eis antwoorde oor DA-raadslid se sluipmoord
Byna ’n jaar ná die Demokratiese Alliansie (DA) raadslid Nhlahlayenza Ndlovu genadeloos voor sy familie doodgeskiet is, is die saak nog nie opgelos nie en het die SAPD ook nog nie die treurende familie van enige betekenisvolle inligting voorsien oor die moordenaars se arrestasie nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat die Ndlovu-familie verteenwoordig, het nou die Ministerie van Polisie genader om in te gryp ná misdaadintelligensie, sy leierskap en die sogenaamde Politieke Taakspan daarin misluk het om enige vordering te maak.
Die sluipmoord op die hoofsweep van die uMngeni Plaaslike Munisipaliteit het op 4 Desember verlede jaar plaasgevind. Hy is meer as tien keer voor sy vrou en kinders se oë geskiet. In Januarie vanjaar het die DA se Onafhanklike Taakspan die privaatvervolgingseenheid genader as sy operasionele vennoot in die ondersoek na Ndlovu se moord. Die privaatvervolgingseenheid ondersteun Ndlovu se familie en help hulle ook met regsbystand. Die privaatvervolgingseenheid het sedert Januarie, onder leiding van adv. Gerrie Nel en met ondersteuning van die senior ondersoekers, uitgebreide konsultasies gehou en verskeie belowende leidrade opgevolg in die uMngeni-omgewing.
In April het die privaatvervolgingseenheid aangekondig dat hy moontlike kritieke bewyse bekom het wat daartoe kon lei dat die saak opgelos kon word, maar generaal-majoor Dumisani Khumalo, hoof van Misdaadintelligensie, het alle kommunikasie met die privaatvervolgingseenheid gesny.
Adv. Nel het nou in ’n skrywe aan die nuwe minister van Polisie, Senzo Mchunu, sy adjunk en die bestuur van die SAPD, verskeie vrae gestel oor die vordering van die ondersoek. In die skrywe herhaal Nel dat die eensydige besluit van die SAPD om nie met die Ndlovu-familie te kommunikeer nie neerkom op ’n gruwelike versuim van hul pligte en dat dit selfs kan neerkom op ’n erkenning van hul onvermoë om te reageer op kwessies soos die privaatvervolgingseenheid op 19 Maart vanjaar in ’n skrywe uiteengesit het.
Nel skryf verder dat die enigste aanname in die afwesigheid van ’n verduideliking is dat Khumalo se besluit om nie met die Ndlovu-familie te kommunikeer nie eintlik ’n blatante poging is om rangonbevoegdheid en die onvermoë om basiese polisiëringsfunksies uit te voer te versteek. Of dat dit ’n opsetlike poging is om nie die saak op te los nie. Daarbenewens voeg Nel by dat Khumalo en sy span se gesloer die ondersoek bevooroordeel het en dat dit moontlik die suksesvolle vervolging daarvan kan belemmer.
“Of dit nou Khumalo en sy ‘span’ se pligsversuim is en of dit bloot onbevoegdheid is om van ons kliënte te verwag om die ondersoekspan se versekering te aanvaar dat die saak aandag geniet sonder enige betekenisvolle terugvoer of betrokkenheid is nie net minagtend nie, maar lewer ook lippediens aan die SAPD se verbintenis daartoe om slagoffer gefokus te wees,” sê Nel.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid bly daartoe verbind om sy gesoute lede se kennis aan die SAPD beskikbaar te stel ten einde die moordenaars – wie se identiteite en motiewe bekend is – te vervolg. Dit vereis egter toewyding van die SAPD se kant af om ’n werkende verhouding te bou en die belange van die samelewing en misdaadslagoffers op die voorgrond te plaas.
Nietemin, die privaatvervolgingseenheid sal nie huiwer om die howe te nader om die SAPD te dwing om hul verpligtinge na te kom nie.