|

Omgekeerde apartheid? Ek gaan bly veg en bou!

“Omgekeerde apartheid.” Jy hoor dit seker gereeld? Erger nog… Ervaar jy dit gereeld?

Ek het onlangs die fliek Poppie Nongena gekyk en dit het my aan die dink gesit. Ek het baie geleer oor die apartheidsjare, waarvan ek nie deel was nie, want enigiemand wat jonger as 28 is, is ná apartheid gebore. Dit het egter ook my oë oopgemaak vir die hedendaagse rassediskriminasie wat ek beleef.

Ja, Poppie Nongena en baie ander het seergekry in die apartheidsjare en wou hê dat die ongeregtighede reggestel moes word. Was “regstel” dalk eerder vervang met “omkeer”? Indien dit is, is die taak voltooi.

Hoekom sê ek so?

Soos die storie van Poppie uitgebeeld is, word ek vandag, as gevolg van my velkleur, gereeld soos ʼn tweedeklasburger in Suid-Afrika behandel. Ek voel vervreem van my geboorteland. Van my medelandsburgers verkondig dan dat ek, en almal met ʼn wit vel, in die see gejaag moet word. Medelandsburgers sing “Kill the Boer” by byeenkomste in openbare plekke waar ek dit met ʼn seer hart moet aanhoor. Medelandsburgers sê dat wit mense moet “teruggaan na Europa”, asof die laaste 370 jaar wat baie Afrikaners help bou het aan Suid-Afrika, nooit gebeur het nie. Ek hoort nie in Europa nie. Ek hoort hier!

Beurse, universiteitstoelating en werksgeleenthede herinner my gereeld dat ek toenemend deur die ANC-regering as ʼn tweedeklasburger beskou word. Daar word dan blatant in al die bogenoemde dikwels gestipuleer dat mense met ʼn wit vel nie daarvoor in aanmerking sal kom nie.

My persoonlike ervaring by staatsinstellings of -dienste is ook nie aangenaam nie, want dit voel baie keer of ek soos ’n buitelander by binnelandse sake hanteer word. Die poskantoor en Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) is ongelukkig ook skuldig in die opsig.  En nog erger,  ek leef soos baie landgenote in vrees. Ek vrees dat ek langs die pad deur die verkeerspolisie afgetrek kan word, want my lisensie het verval en die regering maak dit feitlik onmoontlik vir my om dit te hernu. Ek het al telkemale 04:00 in ʼn lang ry by die verkeersdepartement gaan staan, net om teen 08:00 te hoor “die water is af, ons kan nie vandag lisensies hernu nie.”

Ek mag ook nie na donker op straat wees nie – dis te gevaarlik. Die misdaadsyfer in Suid-Afrika is so hoog dat selfs volwassenes nie veilig voel om winkels toe te gaan nie. Mense het ’n  wesenlike vrees om beroof, verkrag of vermoor te word.

Ek koester eerder die tasbare identiteitsmerker dat ek ’n Afrikaner is met ondernemingsgees, veggees en bougees.

Wanneer die Springbokke ’n belangrike wedstryd speel, voel ek vervreem. Kan ek hulle ondersteun as spelers op grond van ras en velkleur eerder as vaardighede gekies word? Die kwotastelsels van sport laat sekere landsburgers reeds so vroeg as laerskool uitgesluit en vervreem voel wanneer hulle, as gevolg van hul velkleur, nie deel van ’n  sportspan mag wees nie.

Openbare universiteite is ook nie meer ruimtes waar Afrikaanse studente tuis voel nie, want “Afrikaans must fall.” Dit lyk of skole ook nie gespaar sal word nie in die lig van die minister van basiese onderwys se planne om die Skolewet te verander sodat die staat volle seggenskap oor die taalbeleid van skole kan kry.

In die fliek van Poppie word daar klem geplaas op die jeug se beswaar teen ʼn gedwonge taalbeleid in skole. Daar is dan ’n skermgreep  van ’n afgebrande skool waar die  woorde “Black Power” op die muur geverf is.

Die jeug destyds, wat deur apartheid onderdruk is, het geveg teen onreg. Vandag veg ons, die jeug, weer teen onreg en ’n nuwe vorm van onderdrukking. Die verskil is ons sien die belangrikheid daarvan in om te bou en ’n verskil te maak. Ek is geleer dat om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak, jy moet bou, eerder as afbreek en vernietig.

Ek hoort nie in Europa nie. Ek hoort hier!

Terwyl Afrikaans die onderspit by openbare universiteite delf, bou die Afrikaner gemeenskap aan wêreldklasonderwysinstellings, soos Sol-Tech, Akademia en Bo-Karoo Opleiding. Dieselfde kan gesê word met betrekking tot skoolonderrig. Die Solidariteit Skoleondersteuningstelsel (SOS) koester die visie om bestaande Afrikaanse skole in stand te help hou en om nuwes te help bou. Hierdie bou-manier deur opstand is vir die Afrikanervolk nie nuut nie. Dit loop eerder soos ʼn goue draad deur ons trotse geskiedenisverhale.

Vandag moet ek en jy gereeld hoor van ander se “Freedom struggle”, maar die Afrikaner se vryheidstryd duur al lank voort. Ons is nou, met alles waaraan ons bou, ook weer besig met ons “struggle”.

Nee, al word ek gereeld as ’n tweedeklasburger behandel, sal ek nie toelaat dat dit my identiteit afkraak nie. Ek weet van beter as daar vir my vertel word dat my identiteit krimineel is, omdat ek kamstig “die land gesteel het”. Ek koester eerder die tasbare identiteitsmerker dat ek ’n Afrikaner is met ondernemingsgees, veggees en bougees. ’n Bougees wat ’n toekoms bou ten spyte van vele uitdagings.

“Omgekeerde apartheid?” Ek gaan bly veg en bou!

Soortgelyke plasings