Ombudsman roskam Sunday World oor aantygings van “apartheidsvlag” by Bela-optog
Die persombudsman het Vrydag (10 Januarie 2025) in AfriForum en Solidariteit se guns beslis rakende dié instellings se klagtes teen Sunday World. Dié klagtes hou verband met vals aantygings in ’n meningsartikel waarin aangevoer is dat die “apartheidsvlag” gewapper het tydens die Bela-protesoptog op 5 November 2024 wat deur instellings van die Solidariteit Beweging georganiseer is.
Dit is reeds die tweede keer in die afgelope twee maande dat die persombudsman teen Sunday World in AfriForum se guns beslis. In November 2024 het die ombudsman ook bevind dat die koerant valslik aangevoer het dat AfriForum beweer dat ’n wit volksmoord in Suid-Afrika aan die gang is, asook dat dié organisasie weier om homself teen moorde op swart mense uit te spreek. Dié valse aantygings is in Augustus 2024 in Sunday World gemaak.
Die mees onlangse beslissing oor klagtes wat AfriForum en Solidariteit by die persombudsman ingedien het, volg na aanleiding van ’n meningstuk met die opskrif “Moegoe” wat op 10 en 11 November 2024 onderskeidelik in die koerant se gedrukte uitgawe en op die koerant se aanlyn platform verskyn het. Die persombudsman het Vrydag bevind dat Sunday World die perskode oortree het en beslis dat die koerant in die komende week in sowel sy gedrukte as aanlyn uitgawe ’n regstelling moet plaas én om verskoning vir die valshede moet publiseer.
In dié artikel word AfriForum as Sunday World se sogenaamde “Moegoe of the week” bestempel. Die anonieme skrywer vaar daarin uit teen “sommiges in die Suid-Afrikaanse samelewing” wat “’n skaamtelose spul is”. Sterk kritiek word ook uitgespreek teen die draers van oranje t-hemde by die protesoptog en daar word ’n verband getrek tussen die gebruik van “apartheidsimbole” en die openbare vertoon van Nazi-simbole in Duitsland – dit ten spyte daarvan dat geen “apartheidsimbole” by die optog vertoon is nie.
In sy bevinding sê die adjunkpersombudsman, Franz Krüger, klousule 1.3 van die perskode is oortree deurdat ’n ongegronde bewering – dat die “apartheidvlag” by die Bela-protesoptog gewapper het – as feit voorgehou is.
Benewens die regstelling en verskoning onder ’n opskrif wat die woorde “verskoning”, “AfriForum” én “Solidariteit” moet bevat, het Krüger ook beslis dat Sunday World ’n opsomming van die uitspraak moet publiseer.
Solidariteit en AfriForum verwelkom die uitspraak en vertrou dat Sunday World en sy redakteur die bevinding sal eerbiedig.
“Die tweede bevinding wat nou in AfriForum se guns teen Sunday World gemaak is, moet ’n baie duidelike boodskap stuur aan dié koerant en ander media wat leuens oor AfriForum en Solidariteit verkondig en wys dat ons daadwerklik en suksesvol sal optree teen dié wat valshede oor ons versprei,” benadruk Ernst van Zyl, hoof van Openbare betrekkinge by AfriForum.
Pieter Jordaan, bestuurder van nuus en publisiteit by Solidariteit, sê die doel met onverantwoordelike aantygings soos dié is om Solidariteit en AfriForum – en in dié geval ook die Bela-protesoptog – se geloofwaardigheid en reputasie af te takel. “Die poging was gelukkig volkome onsuksesvol en dit is veel eerder die publikasie se geloofwaardigheid wat skipbreuk ly. Dit behoort ’n les vir die Sunday World en ander kommentators te wees. Die Bela-optog was in werklikheid ’n noodsaaklike, suksesvolle en ordelike byeenkoms waartydens Afrikaners se gevoel oor die kwessie van moedertaalonderrig so duidelik as moontlik beklemtoon is. Dit is ’n stryd wat in 2025 volstoom voortgesit word,” sê Jordaan.