|

Om weer na die takhare te luister

Luister hier na die artikel:

Daar word ’n storie uit die Tweede Vryheidsoorlog vertel van ’n Britse soldaat wat deur die Boeremagte gevang is. Die gevangene vra toe vir die burgers om vir hom te verduidelik hoe die Boeremagte georganiseer is: hoe werk hulle brigades en regimente? Die burgers het geantwoord dat die Republikeinse magte uit slegs drie groepe bestaan, die Afrikaners, die Boere en die Takhare. Die Afrikaners sou blykbaar die groep met die hoogste skoling en afronding wees, die Boere minder afgerond en die Takhare dan die groep wilder hardkoppiges wat die mees tevrede was as konings op hul eie plaas waar niemand vir hulle kan vertel wat hulle moet doen, of hoe hulle hoort op te tree nie.

Dié beskrywing van die sogenaamde “takhare” laat mens nie met ’n goeie gevoel oor die mense nie, trouens, mens het ’n negatiewe assosiasie met die woord “takhaar”. Maar dalk skuil hier ’n skat wat herontdek kan word.

Baie van ons was bevoorreg genoeg om groot te word saam met ʼn oom, wat hoogstens hoërskool klaargemaak het, maar wat kon raakvat – en raaksê. Ons ken die plaasvrouens wat met die hulpbronne tot hul beskikking ʼn groot bydrae gemaak het tot die inkomste van die boerdery met bak, konfytkook en blommerangskikkings. Die kinders van hierdie raakvatter ouers, sonder veel geleerdheid, het presteer tot op die hoogste vlakke as ingenieurs, dokters en besigheidslui. Dalk onthou ons nog die gryskop ouderling wat met gesag vir die dominee kon sê indien daar iets tydens ’n preek kwytgeraak is wat nie strook met die ware leer nie.

Hierdie mense was nie geleerd nie, maar hulle was wys. Hulle het hul eie oë geglo en was in voeling met die wêreld waarbinne hulle geleef het en die gemeenskap met wie hulle die ruimte gedeel het. Hulle het uitsonderlike onderskeidingsvermoë gehad: wat is dit wat nou gedoen moet word om vooruitgang vir my gesin en gemeenskap te verseker? Wat is die regte ding om nou te doen? Dit was hierdie mense wat daarin geslaag het om die waardes en ervaring wat oor duisende jare van geslag tot geslag oorgedra is weer aan die geslag ná húlle oor te dra. Hulle het die verbond tussen die geslagte geëer, hulle het in nederigheid maar met diepe krag dít wat hulle ontvang het in ’n beter toestand na die volgende geslag oorgedra.

Daar is vandag baie Afrikaners wat baie geleerd, en suksesvol is – minstens wat die skep van welvaart betref. Is daar nog wysheid in Afrikanergeledere te vind? Wysheid het ’n woord geword wat amper vir ons vreemd is, ons ken eerder woorde soos “spesialis”, “suksesvol”, “welvarend”, “bekend” en “meningsvormer”. Die voortdurende najaag van rykdom en roem laat min ruimte vir die najaag van wat mooi, en goed en waar is.

Die Westerse Beskawing beleef ’n krisis – hoe kan daar in 2023 soveel gewapende konflikte wees wat dood en smart vir gemeenskappe veroorsaak? Die een oorsaak hiervan is moontlik dat ons al ons vertroue begin stel het in geleerdheid, in kennis en spesialisering en dat ons opgehou het om te luister vir die wyses, die irriterende takhare, onder ons. Ons moet ook vra: waar gaan die wyses van die toekoms vandaan kom, rig ons opleidingsinstellings ons kinders en jongmense om wys te wees?

Dit het tyd geword vir ons om weer nederig en stil te word. Om weer te hoor en te luister na wyse stemme, na die fluistering van die skepping om ons; om weer die waarheid te soek. Dan sal ons ontdek dat ware kennis, geluk en vervulling buite die mens is – dit is te vinde by God.

Soortgelyke plasings