|

NVG se besluit om Fikile Mbalula nie te vervolg nie is irrasioneel en onwetlik

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is bly die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het uiteindelik tot ’n besluit gekom in die saak teen die voormalige minister van Sport, Fikile Mbalula. Die besluit blyk egter irrasioneel en onwetlik te wees. Hierdie punt sou nietemin nooit bereik gewees het sonder die konstante druk wat die eenheid op die NVG uitgeoefen het om bloot sy plig na te kom nie.

Die strafsaak teen Mbalula spruit uit ’n verslag oor die destydse minister van Sport se gesinsvakansie in Dubai wat die Openbare Beskermer in 2018 na die NVG verwys het. Die bewerings teen Mbalula is baie eenvoudig; dit behels dat die Dockrat-familie na bewering deur middel van die verwante maatskappye Sedgars Sport en Reimon Uniforms vir die politikus se vakansie betaal het.

In ’n brief aan die eenheid wat die besluit bevestig, het die Gautengse direkteur van openbare vervolging, adv. Sibongile Mzinyathi, twee redes verskaf waarom die saak teen die voormalige minister nie voortgesit word nie. Eerstens het Mbalula volgens Mzinyathi met ’n persoonlike lening vir die reis betaal. Die lening van R300 000 is ten volle en met rente terugbetaal.

Tweedens kon geen quid pro quo volgens Mzinyathi gevind word tussen Mbalula en persone verbonde aan Reiman Uniforms en Sedgars Sport nie.

Mzinyathi meen die NVG het die weergawe dat die geld nie ’n geskenk was nie sonder meer aanvaar. Dit is in stryd met die Openbare Beskermer se bevindings: “Nadat ek hul (Dockrat en Mbalula) voorleggings bestudeer het, aanvaar ek nie dat die reëling tussen hulle ’n leningsooreenkoms was nie. As daar nie in die media oor die transaksie berig is nie, sou mnr. Mbalula nie die fondse terugbetaal het nie.”

Die privaatvervolgingseenheid glo ook nie die betaling was ’n lening nie, en die NVG het geen verskoning om Mbalula nie te vervolg nie. Artikel 3 van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede definieer ’n “gratifikasie” as “enige skenking, geskenk, lening, fooi, beloning, waardevolle sekuriteit, eiendom of belang in eiendom van enige beskrywing, hetsy roerend of onroerend, of enige ander soortgelyke voordeel”.

Ongelukkig, hoewel dit nie verbasend is nie, illustreer die tweede rede wat die NVG verskaf aanklaers se baie swak begrip van korrupsie as ’n misdaad net nog verder. In S v Selebi het die Hoogste Hof van Appèl vasgestel dat daar geen quid pro quo tussen die omkoper (‟corruptor”) en omgekoopte (‟corruptee”) hoef te wees om aan die vereistes vir korrupsie te voldoen nie.

Regter Suretha Snyders het bevind dat “… die appellant (Jackie Selebi) moes besef het dat (Glen) Agliotti se vrygewigheid en die betalings wat hy van hom ontvang het ’n dinamiek sou skep waardeur hy as hoof van die land se polisiediens dankbaar sou moes wees teenoor Agliotti en dat hy bereid sou moes wees om hom gunste te bewys.”

Anders gestel: In die onderhawige geval kan maklik geargumenteer word dat “Mbalula moes besef het dat Dockrat se vrygewigheid en die betalings wat Mbalula van Dockrat ontvang het ’n dinamiek sou skep waardeur as minister van Sport aan dankbaar sou moes wees teenoor Dockrat en dat hy bereid sou moes wees om hom gunste te bewys.”

Dit het die NVG byna vier jaar geneem om tot hierdie besluit te kom. Sulke vertragings benadeel altyd die kanse op ’n suksesvolle vervolging. Maar dit het nie die privaatvervolgingseenheid afgeskrik nie; dié eenheid is steeds oortuig dat Mbalula moet teregstaan in ’n strafsaak. Die eenheid sal nou deeglik besin oor sy volgende stap om te verseker dat geregtigheid geskied.

Soortgelyke plasings