|

NVG-reaksie op Kemp-broers se verkragtingsaak bevestig spesiale behandeling

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid bevestig dat die veroordeelde kinderverkragters, Marinus en Morné Kemp, danksy ’n ooreenkoms met hul regsverteenwoordiger op vrye voet bly ten spyte daarvan dat die Pretoriase hooggeregshof hul borgtog herroep het. Die NVG het verder bevestig dat daar nog nie ’n datum vir die broers se borgtogaansoek vasgestel is nie. Dit laat verdere vrae ontstaan ​​aangesien aanklaers nie die vryheid het om die mag van die howe wederregtelik toe te eien en hofbevele te verontagsaam nie.

In opvolgkorrespondensie het die eenheid die NVG gevra om te verduidelik of sodanige spesiale behandeling beperk is tot die Kemp-geval, en of daar baie soortgelyke gevalle is waar individue wat skuldig bevind is aan ernstige oortredings, op grond van informele reëlings met die owerhede nie in hegtenis geneem is nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het in sy opvolgskrywe aan die NVG beklemtoon dat die eenheid bekommerd is dat dié veroordeelde verkragters voorkeurbehandeling ontvang het, of dat dit praktyk van die NGV geword het en daar nog gevalle is waar veroordeelde misdadigers soortgelyke toegewings ontvang.

Die Kemp-broers is in Oktober 2022 in die landdroshof in Pretoria skuldig bevind aan die verkragting van ’n 14-jarige meisie in 2018. Morné is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis en Marinus tot 20 jaar. Hulle het onmiddellik teen hul skuldigbevinding geappelleer en is sedertdien op borgtog. Die Pretoriase hooggeregshof het die appèl op 30 Oktober van die hand gewys en hul borgtog herroep. Die hof het die broers beveel om by die Pretoria-Noord-polisiestasie aan te meld om gearresteer te word en te begin om hul vonnisse uit te dien.

Die eenheid verteenwoordig die slagoffer en haar ma, wat die eenheid genader het nadat hulle verneem het dat die dogter se veroordeelde verkragters nie in hegtenis geneem is nie, ondanks hul onsuksesvolle appèl. Die ma kon nie duidelike antwoorde van die owerhede kry nie en bly bekommerd omdat die twee mans in haar buurt woon.

Die NVG sê dit sal “male fide of kwaadwillig” wees as die staat die Kemp-broers in hegtenis neem hangende ’n hofbesluit om borgtog aan hulle toe te staan.

Adv. Nel voer in sy jongste brief aan die NVG aan dat die eenheid onwrikbaar is daarin dat dit nie male fides of kwaadwillig is vir die staat om ooreenkomstig die oppergesag van die reg op te tree en die waardes te handhaaf van ’n organisasie wat verplig is om sonder vrees, voorkeur of vooroordeel op te tree nie. 

Nel meen dat die staat eerder male fides optree wanneer die belange van veroordeelde misdadigers verhewe word bo dié van die samelewing en hul slagoffers wat geen verduideliking kry oor waarom die aanvallers op vrye voet bly nie. Dit laat, volgens Nel, die vraag ontstaan: In wie se belang tree die staat op as dit nie in dié van die samelewing en die slagoffers van misdaad is nie?

Nel skryf voorts dat hoewel die NVG aandui dat hy in kontak was met verskeie rolspelers in hierdie saak, daar geen pogings was om die slagoffer en haar familie op hoogte van verwikkelinge te hou nie. Hy benadruk ook dat daar in vorige korrespondensie aangedui is dat die klaagster in vrees en onsekerheid leef omdat haar aanvallers op vrye voet is. Nel vra ook tereg wanneer die klaagster ingelig gaan word van die uitgebreide reëlings wat deur die NGV getref word.

Die Kemp-broers se saak volg kort op die vrystelling van ’n onlangse studie oor geslagsgebaseerde geweld deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Dié navorsing het onder meer bevind dat geslagsgebaseerde geweld dikwels nie aangemeld word nie weens ’n gebrek aan vertroue in owerhede wat belas is daarmee om daarop te reageer. Ongelukkig bied die Kemp-broers se saak aan die publiek genoegsame rede om die owerhede te wantrou.

Soortgelyke plasings