|

NVG las verdere ondersoek in kinderpornografiesaak teen professor Pierre de Vos

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die kinderpornografiesaak teen professor Pierre de Vos van die Universiteit van Kaapstad (UK) heropen in reaksie op AfriForum se privaatvervolgingseenheid se vertoë wat talle tekortkominge in die ondersoekproses uitgelig het. Die oorspronklike dossier het slegs twee verklarings bevat: die verklaring van die klaer, wat in daardie stadium ’n verteenwoordiger van AfriForum Jeug was, en ’n ongetekende verklaring van De Vos.

Die eenheid het opgemerk dat die polisie versuim het om onder meer De Vos se selfoondata te bekom, die rekords van sy selfoondiensverskaffer, sy internetdiensverskaffer en sosiale media, asook verklarings van verskeie mense, insluitend die “tegniese deskundige” wat hy glo geraadpleeg het en ’n kundige ontleder om al hierdie data te verwerk.

Adv. Indra Goberdan, adjunkdirekteur van Openbare Vervolging in die Oos-Kaap, het in ’n brief, wat 21 November 2024 gedateer is, gesê haar “kantoor het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) opdrag gegee om die uitstaande ondersoek te voltooi en die betrokke aanklaers versoek om verslae in verband met die besluit om nie te vervolg nie, in te dien. Hierdie kantoor is in ’n posisie om die besluit [om nie te vervolg nie] te hersien wanneer die bogenoemde ondersoek afgehandel is”.

Op 10 September 2022 het ’n plasing op De Vos se X-rekening ’n video bevat van, wat in die plasing beskryf is as ’n “Chinese maagd jong seun” wat mishandel word deur ’n volwasse man. Kort daarna is die plasing van die rekening verwyder. Op 18 September 2022 het De Vos ’n plasing gemaak en verduidelik dat ’n kuberkraker toegang tot sy X-rekening verkry het en pornografie daarop gedeel het. Hy het bygevoeg dat dit duidelik is dat daar niks sal kom van enige kriminele klagte wat teen hom aanhangig gemaak word nie.

Op 21 September 2022 het die klaer, wat toe ’n verteenwoordiger van AfriForum Jeug was, bewerings van die oortreding van die Wet op Films en Publikasies by die Humewood-polisiestasie aangemeld. De Vos het op 28 September sy eie saak geopen waar hy beweer het dat ’n kuberkraker toegang tot sy sosialemediarekening verkry het. Deur ’n Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA)-aansoek het die privaatvervolgingseenheid die dossier bekom in die saak wat deur die AfriForum Jeug-verteenwoordiger aanhangig gemaak is. Dit het ’n verklaring bevat wat deur die klaer opgestel is om die saak te registreer, en nog ’n ongetekende elektroniese verklaring deur De Vos.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê die NVG se reaksie bevestig die eenheid se siening dat die “besluit om nie te vervolg nie voortydig, irrasioneel en gegrond is op die polisie se doelbewuste pogings om ’n onvolledige ondersoek te doen. Die NVG was so verblind deur die status van die verdagte dat dit moontlik die belangrikheid van ’n ondersoek na die ernstige aard van hierdie soort misdryf misgekyk het. Die fokus bly op die beskerming van kinders, maar sluit in die beskerming van die samelewing teen die verspreiding van seksueel eksplisiete dade teen kinders.”

Soortgelyke plasings