|

NVG gee na bewering beweegruimte aan veroordeelde kinderverkragters om nie gearresteer te word nie hangende appèl

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het dringende antwoorde vanaf die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versoek ná die privaatvervolgingseenheid te hore gekom het van ’n moontlike versuim om wetlike prosesse in te stel.  Dit het daartoe gelei dat twee veroordeelde kinderverkragters nie in hegtenis geneem is ná hulle appèlaansoek van die hand gewys is nie. Die tweelingbroers Morné en Marinus Kemp is in 2022 skuldig bevind aan verkragting van ’n 14-jarige meisie. Ten spyte daarvan dat hulle appèlaansoek teen hul skuldigbevinding afgekeer is op 30 Oktober vanjaar en hulle beveel is om by die ondersoekbeampte aan te meld, is hulle steeds nie in hegtenis geneem nie en oortree hulle dus nou ’n hofbevel.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die slagoffer en haar ma, wie die eenheid genader het ná sy gehoor het dat haar dogter se verkragters nog nie in hegtenis geneem is nie. Die ma kon nie klaarheid van die owerhede kry oor die kwessie nie en sy bly bekommerd aangesien die twee mans in haar omgewing woon. “Hulle moet tronk toe gaan. My dogter is soos ’n gevangene in haar eie huis,” sê sy.

Die Pretoria-landdroshof het die Kemp-broers in Oktober 2022 skuldig bevind aan die verkragting van die 14-jarige meisie in 2018. Morné is tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis en Marinus tot 20 jaar. Hulle het onmiddellik hulle skuldigbevinding appelleer en is sedertdien uit op borgtog. Die Pretoriase Hooggeregshof het op 30 Oktober vanjaar die aansoek afgekeer en hulle borgtog herroep. Die hof het die broers beveel om by die Pretoria-Noord Polisiestasie aan te meld om gearresteer te word en hul vonnisse uit te dien.

Twee weke later is die veroordeelde kinderverkragters steeds nie in hegtenis geneem nie. Die privaatvervolgingseenheid het navraag gedoen by die Pretoriase Hooggeregshof en geen bewyse gekry dat die broers aansoek om verlof tot appèl gedoen het of ’n aansoek ingedien het om hul borgtog te verleng nie. Die privaatvervolgingseenheid het ook met die staatsaanklaer gepraat wat die eenheid meegedeel het dat ’n datum nog nie vasgestel is om die saak aan te hoor nie. Voorts het die ondersoekbeampte bevestig dat die twee mans nie by hom aangemeld het nie. Dit blyk uit hierdie inligting dat daar ’n ooreenkoms tussen die NVG en die broers plaasgevind het sodat hulle nie hoef aan te meld om gearresteer te word nie hangende die finalisering van hierdie hofprosesse.

Só ’n ooreenkoms is hoogs onreëlmatig en stuur ’n kommerwekkende boodskap aan die samelewing dat die strafregstelsel die belange en veiligheid van slagoffers verontagsaam ter wille van oortreders. In hierdie geval blyk dit dat die veroordeelde verkragters spesiale vergunnings ontvang terwyl die tiener slagoffer van geslagsgebaseerde geweld in die duister gelaat word.

In ’n skrywe aan adv. Sibongile Mzinyathi, die Noord-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolgings, versoek adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, ’n opdatering oor die kwessie. Volgens Nel bly die feit staan dat die veroordeelde verkragters nie hulself aan die ondersoekbeampte aan oorhandig het soos die hof beveel het nie. Nel beklemtoon dat dit in die belang van die slagoffer en die samelewing in geheel is om te weet wat die NVG of die registrateur van die Hooggeregshof gedoen het om te verseker dat die hofbevel gehoorsaam word.

“Ons is nie seker of daar wel reëlings getref is dat die twee mans nie hulself hoef aan te meld nie. Ons gevolgtrekking is dus dat die beskuldigdes ten spyte van ’n hofbevel versuim om hulself aan te meld by die ondersoekbeampte en steeds op vrye voet is.”

Nel meen dat dit ’n mislukking van die strafregstelsel is om na te laat om ’n slagoffer in kennis te stel dat haar verkragters, wat in haar omgewing woon en reeds skuldig bevind is, nog uit is op borgtog. Ten slotte versoek Nel dat Mzinyathi moet bevestig of verlof tot appèl wel toegestaan is en die broers ’n vergunning gekry het om nie binne sewe dae aan te meld om hul vonnisse uit te dien soos die regter beveel het nie.

Die privaatvervolgingseenheid het in September vanjaar ’n neiging opgemerk waar sake wat vir appèl verwys is, veroordeelde misdadigers toelaat om vir jare lank op vrye voet te wees terwyl hul slagoffers van geregtigheid ontneem word. Ses jaar ná die Kemp-broers ’n tiener verkrag het en twee jaar ná hulle skuldigbevinding is hulle steeds vry terwyl hul slagoffer in vrees leef in haar eie huis. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om te veg vir vroue en kinders wat deur die strafregstelsel versaak word.

Soortgelyke plasings