|

Nuwe uitrusting stel AfriForum-buurtwag in staat om meer vir Swellendam te doen

Die AfriForum-tak in Swellendam het onlangs agte nuwe koeëlvaste baadjies aangekoop vir hul buurtwaglede om tydens veiligheidsoperasies saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dra. Dié buurtwag werk al lank saam met die SAPD en die verkeerspolisie om die omgewing te beveilig teen kriminele elemente. Ná aanleiding van verskeie gewapende rooftogte en kapings in die gebied, moes die buurtwag stappe doen om te verseker dat hul lede so veilig moontlik is.

Die Swellendam-buurtwag beman gereeld beheerpunte saam met die SAPD om verdagte voertuie te deursoek. Hiermee saam help hierdie buurtwag ook om onwettige strukture af te breek en te verwyder, terwyl die lede in die aande gesamentlike sigbaarheidspatrollies ry.

Die buurtwag is ook in die proses om nuwe tweerigtingradio’s aan te koop om te verseker dat hul lede deurentyd goeie kommunikasie kan handhaaf. Hierdie radio’s sal ook beter samewerking en koördinasie met die SAPD en ander rolspelers verseker.

“Die Swellendam-buurtwag is ’n sprekende voorbeeld van hoe gewone mense hul gemeenskap kan help beveilig. Met die aankoop van die koeëlvaste baadjies, wil die AfriForum-tak verseker dat sy eerste linie van verdediging ook veilig is,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Sluit vandag nog aan by die Swellendam-buurtwag aan en wees deel van die verskil. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings