|

Nuwe kortfilm belig hoe Afrikaners ná oorlog uit die as opgestaan het

 

Op 11 Junie 1890, tydens die Anglo-Boereoorlog, het sowat 4 000 Boeresoldate teen ’n mag van byna 14 000 Britse soldate te staan gekom op die hoogste kop van die plaas Kleinfontein, oftewel Diamond Hill, in die Transvaal.

Dié koppie se oop grasvlakte het min skuiling gebied en was nie ideaal vir die Engelse troepe en hul perde nie.

Byna 120 jaar later word ’n film op dié einste koppie gemaak wat nie net oor die seer en trauma van dié vernietigende oorlog handel nie, maar ook die geloof, groei en hoop uitbeeld wat uiteindelik daaruit gevloei het.

Begrond is gebaseer op die boek met dieselfde naam en is deur dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, geskryf. Dié boek, ’n kort historiese roman, is volgens Hermann ’n antwoord op die hartseer vrae waarmee mens gelaat word as jy die boek Treurgrond (wat ook in 2015 in ’n vollengte film omskep is) gelees het.

Begrond vertel die verhaal van ’n familie wat ná  ʼn plaasaanval van hul oupa afskeid moet neem. Dit dwing die kleinseun, Kleinfaan Venter, om terug te keer na die plaas waar hy sy woede oor die moord en verval van die land moet probeer verwerk.

Volgens Hermann is Kleinfaan soos baie ander mense wanhopig oor sy toekoms in Suid-Afrika, maar antwoorde op sy vrae kom uit ʼn onverwagte oord, die verlede en die verhaal van sy grootouma Katryn, wat nie net die Heilbron-konsentrasiekamp oorleef het nie, maar ook na die oorlog moes opstaan en weer ’n lewe bou.

Begrond is geskryf vir daardie persoon wat kyk na die uitdagings in die land en dink ‘nou wat nou’. Dit vertel oor die pyn en hartseer van die verlede maar ook hoe vorige generasies opgestaan het en besef het dat daar steeds hoop is. Kleinfaan leer uit sy voorouers se krag en besef ‘hier is ek begrond’,” sê Hermann.

Hy vertel dat hoewel die storie fiksie is, elke karakter en verhaal uit die boek op ware mense en hul ervaring gebaseer is. “Die begrafnistoneel in die begin van die boek is deur my eie oom, wat self op sy plaas vermoor is, se begrafnis geïnspireer. Nes ek in die boek skryf, het iemand tydens sy begrafnis ook gesê dat die grond treur met sy afsterwe.”

Die tonele uit die konsentrasiekamp is gebaseer op briewe wat ma’s tydens die oorlog geskryf het en artefakte soos die ou stinkhouttafel bestaan werklik en word tans uitgestal by museums. “Alles in dié verhaal is eg. Die karakters, verhale en artefakte verleen ’n outentieke gevoel aan die film en my wens is dat kykers werklik hoop daaruit sal vind.”

Volgens Hermann word die boere se swaarkry beskryf juis sodat mense die merkwaardigheid van hul opstaan kan verstaan. “Die boere het die morele hoë grond behou en gebou. Dít het gemaak dat hulle die oorlog gewen het, al het hul dit op papier verloor. Afrikaners se storie is dus vir almal in Suid-Afrika ’n storie van hoop.”

Elrich Yssel, regisseur van Begrond, sluit by Hermann aan en vertel dat geloofwaardigheid vir hom die belangrikste maar ook uitdagendste element van die verfilmingsproses was. “Ons moes kreatief wees en ’n baie belangrike en groot verhaal met baie min en op klein skaal so eg as moontlik vertel.”

Hy sê die verfilming het egter gesorg vir talle hoenderveloomblikke. “Om te sien hoe karakters wat jy slegs op papier ken uitgelig word en deur passievolle akteurs lewe kry, is onbeskryflik. Dít, tesame met die film se geskiedkundige ligging, waar daar vandag steeds skanse uit die oorlog staan, sorg vir ’n ongelooflike ervaring.”

Yssel wil veral hê dat kykers ’n waardering moet kry vir dit waardeur vrouens tydens die oorlog gegaan het. “Katryn kon baie maklik ineengestort het, maar sy het opgestaan uit haar hartseer. Ek wil hê mense moet die groei en positiwiteit ervaar wat uit tragedie kan kom.”

Begrond sal in 2020 vrygestel word.

Soortgelyke plasings