Nuwe denke en leierskap vir veranderende onderwyslandskap nodig
Onderwys in Suid-Afrika is vandag wisselvallig, onvoorspelbaar, ingewikkeld én onduidelik.
Dit is in die lig hiervan dat onderwysers en hoofde hulself toenemend moet afvra of hulle toegerus is om aan die uitdagings van die “VUCA-scenario” en omstandighede te voldoen.
Daan Potgieter, hoof van die Hoërskool Waterkloof, wat in Julie as uitvoerende hoof van die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) begin, het skoolhoofde toegespreek by die leierskapkongres van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand.
Hy het verduidelik dat onderwys vandag gekenmerk word aan die VUCA-begingsels wat soldate in oorloggeteisterde gebiede soos Irak ondervind. Dit is volatility, uncertainty, complexity en ambiguity.
Potgieter meen onderwys in Suid-Afrika is vandag baie kompleks as gekyk word na politieke en ander faktore wat daarop inspeel en besluite wat dikwels deur onkundiges geneem word. “Dit is baie duidelik dat sekere norme in die onderwys nie meer duidelik of vanselfsprekend is nie. Daar is ’n tragiese gaping tussen die werklikheid en die ideaal.
“Dit beteken egter nie dat alles in die lewe nou ‘ge-VUCA’ is nie. Dis ’n toestand wat geleenthede skep en waarin leierskap getoets word.”
Potgieter meen die onderwys het baie meer strategiese leiers nodig. Dit is sulke leiers wat die Vuca-situasie sonder vergrype of sinisme uitdaag. Hulle is mense wat aanpasbaar is, wat in beste praktyke én mense glo, wat respek vir ander het, nederig is en weet hoe om verandering te bestuur.
Volgens Potgieter vereis die nuwe omstandighede dat leiers ook kreatief en innoverend moet wees en probleme kan oplos. “Dit vereis ook dat hulle uit foute leer, ontwikkelingsgeleenthede skep en veranderingsagente in hul skole moet aanstel. “Hoofde moet ook op hulself fokus. Jou skool is net soos goed soos die beste jy. Fokus en hou gereeld nabetragting en vra jouself gereeld af hoe jy anders in ’n gegewe situasie sou optree.”
Met verwysing na wat onderwysleiers doeltreffend maak, het Potgieter fanatiese dissipline, nederigheid, opvolgbeplanning en goeie oordeel en besluitneming beklemtoon.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die visie vir Afrikaanse onderwys moet skerper wees as ons vrese vir die toekoms of ons herinnering aan die verlede.
Verskeie plaaslike en internasionale sprekers neem in die volgende drie dae aan die meer as 200 besprekingsessies deel wat deur meer as 730 onderwysers en hoofde van regoor die land bygewoon sal word.
Buys het ’n kort oorsig oor die wêreld- en Suid-Afrikaanse geskiedenis gegee en gesê dit is belangrik dat ’n mens moet besef dat die wêreld en geskiedenis konstant aan die verander is. “Die toekoms is altyd moontlik en ons hoef nie moedeloos te raak nie. Die geskiedenis maak soms skerp draaie, maar daar is altyd ’n toekoms.”
Hy het gesê Afrikaners was met elke eeuwending in ’n krisis gedompel wat hulle kort daarna oorkom het. “Ons moenie in korttermyn-denke verval nie. Ons moet onthou dat mense die geskiedenis maak. Ons is nie magtelose slagoffers wat maar gelate aanvaar wat met ons gebeur nie. Ons kan vandag vir die toekoms beplan.
“Ons staan op die skouers van onderwysreuse en hoef derhalwe nie van voor af te begin nie. Ons moet met die beproefde waardes wat ons het verseker dat ons kinders in die toekoms ook gehalte-onderrig in Afrikaans sal kry. Dit beteken ons moet globaal dink, maar lokaal doen.”
Prof. Koos Malan, dosent in publieke reg aan die Universiteit van Pretoria (UP), het in sy voorlegging gepraat oor die grondwetlike ruimte vir Afrikaanse skole en Afrikaanse onderrig in die algemeen.
Malan het verduidelik dat die idee dat die grondwet ’n oppermagtige instrument is wat onuitdaagbaar en onaantasbaar is vals is. Die werklikheid is dat uitsprake van regters van die grondwetlike hof ooreenstem met die ideologie van die dominante groepering en gevolglik dus ook die ANC-regering en die party se elite. Die ANC-ideologie word as die korrekte en enigste voorgehou en deur uitsprake wat afgedwing en daarmee enigiets wat daarmee verskil onderdruk.
Volgens Malan het transformisme die gedeelde ideologie van die totale dominante gemeenskap en die grondwetlike hof geword. “Die grondwet bring nie stabiliteit mee nie, maar is eerder daarop gemik om ’n sosialistiese egalitariese bedeling en omvormde samelewing teweeg te bring. Die Kovsie-taaluitspraak is ’n sprekende voorbeeld hiervan.
Malan meen egter Afrikaners moet steeds besef dat die grondwet voorsiening vir Afrikaanse skole maak en dat die reg opgeëis moet word. Hy het gesê om Afrikaanse skole te behou of uit te bou, moet Afrikaners in getalle as gemeenskappe konsentreer. Privaat onderwysinstellings moet ook geskep word en daar moet na digitale onderrigmodelle gekyk word wat plaaslik en oorsee in Afrikaanse onderrig gebruik kan word. Voorts is dit belangrik dat die inhoud in Afrikaanse onderwys ook gered word en dat nuwe inhoud bygevoeg word om Westerse waardes en standaarde daaraan te gee.
Melanie Buys, onderwysspesialis by die SOS, het in haar aanbieding meer lig gewerp op ’n strategie vir selfstandige openbare skole.
Buys het daarop gewys dat Afrikaanse skole uitnemende instellings is danksy die toewyding van onderwysers, ouers en leerders, die betrokkenheid van ouers en goeie leierskap en bestuur in dié skole. Dié skole se uitslae spreek vanself en daaruit kan ook afgelei word dat die sukses aan moedertaalonderrig en die roepingsbewustheid van onderwysers toegeskryf kan word.
Benewens die feit dat internasionale neigings groter selfstandigheid in die hand werk, is daar in Suid-Afrika ook ander risiko’s wat groter selfstandigheid dryf soos onvoldoende staatsubsidie, groter staatsinmenging by skole, die verval van skole in die platteland en bedreigings vir skole met ’n unieke karakter en Christelike waardes.
Buys het gesê vir skole om groter selfstandigheid te kry, moet daar ook met die regering beding word. “Skole met ’n goeie rekord, moet meer magte kry en daar moet ook ’n opsie vir privatisering van openbare skole wees.”
Sy het voorts gesê regsaksie moet teen die staat oorweeg word waar skole nie billike vergoeding vir skoolgeldvrystellingskry nie.
Daar is ook bepaalde aksies wat skole kan neem om hul posisie te verbeter. Dit sluit in die toerus van beheerliggame en skoolbesture, vennootskappe met besighede wat dieselfde visie en waardes deel en die ontwikkeling van aangrensende eiendom vir geriewe wat aan skole beskikbaar gestel kan word. Sy het ook die gebruikmaking van onafhanklike regsentiteite soos trusts en vrywillige verenigings beklemtoon.