Nuwe Akademie-hoof wil groter bewustheid rondom Afrikaans en instelling skep
Prof. Anne-Marie Beukes is geen onbekende of onbeminde in taal- en akademiese kringe nie.
Daarom dat haar aanstelling vanaf 1 Junie as die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wyd verwelkom word.
Beukes neem die leisels by die historikus dr. Dioné Prinsloo oor wat die pos vir twee termyne beklee het.
Beukes het baie jare aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), later bekend as die Universiteit van Johannesburg, en die Universiteit van Pretoria (UP) deurgebring. By elk van dié instellings het sy twee grade verwerf. Sy het ook in die eerste dekade van die nuwe Suid-Afrika in die staatsdiens gewerk. Sy is ook ’n voormalige voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en het nege jaar op die Wêreldraad van Vertalers gedien, waarvan drie jaar as visepresident.
Sy beskou haar aanstelling by die Akademie as ’n “lekker idee aan die einde van ’n lang akademiese loopbaan”. Haar kontraktermyn is vir drie jaar en in dié tyd beplan sy om haar voete te vind en lekker in te klim by die werksaamhede van die Akademie.
Volgens Beukes sal sy haar laat rig deur die missie en visie van die Akademie wat gegrond is op die bevordering van die wetenskap, tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans (primêr binne Suid-Afrika).
Dit is egter vir haar belangrik dat uitvoering gegee word aan groter bewusmaking van Afrikaans by die breër publiek sowel as die Afrikaanse gemeenskap. “Ons moet werk om te voldoen aan die groter behoefte wat daar is om meer van Afrikaans te weet.”
Beukes meen die opleiding van kinders en studente om in ’n veeltalige wêreld te kan werk en presteer, is van kardinale belang. “In die woorde van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, stem ek saam met hom dat ons nie net met onsself kan praat nie.”
Beukes voel ook baie sterk daaroor dat Afrikaans in die kennis- en tegnologie-era ook sy plek volwaardig in die kuberruim moet kan volstaan. Sy wys op die belangrike werk wat byvoorbeeld Maroela Media en Viva in die verband doen, asook die werk van die Taalkommissie.
Sy sê dis ook ’n drogredenasie dat alles in die wêreld net Engels is en dat alle navorsing of onderrig daarom ook net in Engels moet wees. Sy sê daar is wonderlike geleenthede, ook by die Akademie, vir studente om navorsing vir ’n meesters- of doktorsgraad in Afrikaans te doen en dit natuurlik ook internasionaal in Engels te laat publiseer. Volgens Beukes is een van die groot uitdagings ook om ouers bewus te maak om hul kinders in Afrikaans te laat onderrig en te studeer.
Beukes meen ook die wonderlike pryse waaronder die Hertzog-prys, wat sekerlik dié beroemdste prys van die Akademie is, moet ook vir jong akademici en navorsers ’n aansporing wees om in die taal te werk. “’n Taal bestaan ter wille van mense. Dit bemagtig of ontmagtig mense. Ons moet die taal nie verabsoluteer nie en altyd onthou dat dit daar is ter wille van mense.”
Beukes se uitnodiging is daarom ook dat meer mense hulle moet vergewis van dit waarmee die Akademie besig is. “Kom ons vat hande en raak betrokke.”
Sy meen om groter bewustheid vir Afrikaans en die Akademie te skep, is een van die geringe aanpassings wat gedoen kan word om die webwerf van die Akademie ook in Engels beskikbaar te maak.