|

Nuwe aanklaer aangestel in Midrand-moordsaak

’n Nuwe aanklaer is aangestel om die vermoorde Xolani Kunene se saak te hanteer te danke aan die betrokkenheid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Kunene se familie het die privaatvervolgingseenheid genader ná die vorige aanklaer hulle na bewering probeer oortuig het om ’n pleitooreenkoms met die beskuldigde, Buhle Lebohang Mabaso, aan te gaan. Dié ooreenkoms sou behels dat hy slegs skuldig bevind word aan strafbare manslag en R750 000 vergoeding aan die familie betaal. Die familie se klagtes aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook op dowe ore geval.

Mabaso het gister (17 September) vlugtig in die Alexandra-landdroshof verskyn waarna die saak uitgestel is om sy regspan die geleentheid te gun om ’n deskundige aan te stel om die beeldmateriaal van die insident te analiseer. Mabaso word daarvan aangekla dat hy Kunene na bewering op 13 Augustus 2022 verskeie kere geskiet het buite ’n residensiële kompleks in Midrand.

Die nuwe aanklaer se aanstelling volg ná die privaatvervolgingseenheid op 3 Julie vanjaar ’n skrywe aan adv. Andrew Chauke, Gautengse direkteur van openbare vervolging, gerig het. Die privaatvervolgingseenheid het sy kommer uitgespreek oor die aanklaer, senior advokate in die direkteur van openbare vervolging se kantoor en vertragings in die finalisering van dié saak asook die algemene versuim om met misdaadslagoffers te kommunikeer. Die NVG het onder meer die skuld op uitdagings ten opsigte van IT en e-posse gepak of bloot die Kunene-familie se bekommernisse as niks afgemaak of dit net geïgnoreer.

Sindisiwe Mhlongo, Kunene se suster, het die NVG se verskonings verwerp. “Ons volstaan dat die aanklaer probeer het om die familie te beïnvloed om vergoeding te aanvaar en selfs voorgestel het dat ons gelukkig is dat ’n aanbod van só bedrag aan ons gemaak is. Die aanklaer het ons in die hof geïgnoreer. Die enigste keer wat ons enige erkenning van hom af gekry het was toe hy ons probeer oortuig het om die vergoeding te aanvaar,” sê Mhlongo.

 Beeldmateriaal van die insident wys hoe twee mans in ’n voertuig sit, die bestuurder haal dan ’n vuurwapen uit en skiet sy passasier verskeie kere. Terwyl die man bewegingloos op die grond lê loop die bestuurder om die voertuig en skiet die man in die kop voor hy dan in die voertuig vlug. Kunene, ’n pa van twee, is op die toneel dood. Mabaso is ure later gearresteer toe hy na bewering probeer het om uit Gauteng te vlug. Hy is ’n week later borg toegestaan.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid sê dat Kunene se familie hoopvol is dat die saak binnekort verhoor sal word. “Hoewel ons bemoedig is deur die aanstelling van die nuwe aanklaer, bly dit vir ons kommerwekkend dat die NVG nie die omvang van die klagte, wat ons namens die Kunene-familie aan hulle gestuur het, begryp nie. Ons is nie daarvan oortuig dat ’n ander familie nie op ’n soortgelyke manier hanteer sal word nie.”

“Die versuim om op te tree en te reageer op bewerings van wangedrag is deel van ’n breër tendens in die regering. In plaas daarvan om mense aanspreeklik te hou word hulle bloot vervang of geskuif in die hoop dat die probleem sal verdwyn. Hierdie raak aan die kern van die ineenstorting van die strafregstelsel, waar amptenare wat versuim om hul verpligtinge teen misdaadslagoffers en die samelewing na te kom eenvoudig nie ondersoek en gedissiplineer word nie,” sluit Bateman af.

Die saak is uitgestel tot 7 Oktober 2024.

Soortgelyke plasings