|

Nuuskommentaar: Wes-Kaapse SAPD hopelik ernstig oor taalommekeer

In Maart vanjaar het ’n skrywe van die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt. genl. Thembisile Patekile, groot golwe in die media gemaak. Dit het behels dat hy alle lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in dié provinsie opdrag gegee het om te sorg dat alle verklarings en amptelike dokumentasie van die SAPD in die Wes-Kaap voortaan slegs in Engels moes wees.

Hierdie instruksie bots met die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (Wet 12 van 2012), asook ander bepalings, byvoorbeeld die Dienshandves vir slagoffers van misdaad wat dit duidelik stel dat slagoffers ’n reg tot diens in eie taal het.

Die burgerlike samelewing het die kommissaris dadelik op sy fout gewys.

AfriForum en Solidariteit het hom daarop gewys dat soortgelyke instruksies in Limpopo en die Noord-Kaap onderskeidelik tot sake by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en hoër hof gelei het. In die geval van die Noord-Kaap, is ’n skikking tussen die partye selfs tot hofbevel gemaak wat bepaal dat kommunikasie tussen lede van die publiek en die polisie nie slegs in Engels mag geskied nie.

Volgens die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, moet alle staatsdepartemente, insluitend die SAPD ten minste drie amptelike tale op nasionale vlak en drie per provinsie gebruik. In die Wes-Kaap is dit Afrikaans, Engels en Xhosa. Benewens hierdie tale, moet alle moontlike moeite gedoen word om lede van die publiek in hulle eie tale te help.

Patekile se instruksie sou lei tot die skending van mense se taalregte en waardigheid, of selfs dat mense minder geneig sou wees om misdaad aan te meld as hulle weet dat hulle dit slegs in Engels kon doen.

Wanneer iemand trauma beleef, soos ’n slagoffer na ’n misdaadvoorval, of verdagte wat gearresteer word, ondervind hulle dikwels probleme om hulleself duidelik uit te druk in ’n ander taal as hulle moedertaal – selfs al praat hulle die ander taal onder normale omstandighede vlot. Verder is misdaadslagoffers soms minderjarig en hulle het nie eens die nodige woordeskat in hulle eie taal om te beskryf wat hulle ervaar het nie. Om dan in ’n ander taal te probeer vaslê wat hulle verduidelik, is uiters gevaarlik. Misverstande kan letterlik lei tot regsverydeling, sonder dat enige skakel in die proses van verklaring aflê tot verhoor kwaadwillig was.

AfriForum ontvang gereeld klagtes oor polisiestasies in oorwegend Afrikaanssprekende areas waar niemand Afrikaans magtig is nie.

AfriForum en Solidariteit se skrywe aan kommissaris Patekile is nog nie beantwoord nie en hy het ook nie opgedaag by ’n afspraak met verteenwoordigers van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en ander taalgemeenskappe nie. Intussen het die DA ’n parlementêre vraag oor die opdrag aan die minister van Polisie, Bheki Cele, gerig, waarop hulle geantwoord is dat alle provinsiale kommissarisse opdrag sal kry om instruksies wat in stryd met die nasionale en provinsiale taalbeleide is, dadelik terug te trek.

Kommissaris Patekile het in die media hierop reageer deur te sê dat mense in die taal van hulle keuse met die polisie kan kommunikeer en dat sy instruksie eintlik net van toepassing was op interne kommunikasie en verklarings wat deur lede van die SAPD self afgelê word.

Die terugvoer beide van die DA en Patekile skep die indruk dat die saak nou afgehandel is, maar taal bly ’n uitdaging in die SAPD. AfriForum ontvang gereeld klagtes oor polisiestasies in oorwegend Afrikaanssprekende areas waar niemand Afrikaans magtig is nie. Dieselfde geld vir dienslewering op die 10111-noodlyn. Die polisie se verweer is onder meer dat hulle sukkel om Afrikaanssprekendes te werf vir hulle telefoondienssentrum en dat lede soms huiwerig is om te sê as hulle Afrikaanssprekend is, want dan word alle Afrikaanse klaers na hulle verwys terwyl nie-Afrikaanssprekende kollegas ’n baie ligter werkslas het.

Lede van die publiek het behoefte aan ’n polisiediens wat die gemeenskap se taalbehoeftes in ag neem.

Die oplossing is om met die aanstelling en plasing van personeel seker te maak dat hulle die meerderheid van die gemeenskap waarin hulle werksaam is, vlot in hulle taal kan bedien. Met ’n lomp, nasionaal bestuurde polisiediens is dit moeilik om te bestuur, maar in ’n federale bestel, veel makliker. Lede van die publiek het behoefte aan ’n polisiediens wat die gemeenskap se taalbehoeftes in ag neem. Mense het oorweldigend positief gereageer op ’n vraag van AfriForum of mag van die nasionale regering na provinsies afgewentel moet word sodat die polisie diens sal lewer in die taal van die gemeenskap.

Tot dit die geval is, sal taaldubbeltjies egter aanhou veroorsaak dat die weg na geregtigheid nie sonder struikelblokke sal wees nie.

Soortgelyke plasings