Nuuskommentaar: Wanneer ontevredenheid in moorddadige optrede oorspoel
Protesoptogte is letterlik al dekades deel van Suid-Afrika en of ’n mens nou daarmee saamstem of nie die wet maak voorsiening daarvoor dat landsburgers mag betoog om uiting aan hul frustrasies te gee. Dit moet egter vreedsaam wees!
Maar wat die afgelope paar weke by hospitale en op universiteitskampusse landwyd afspeel, is eintlik afgryslik.
Studente beweer hulle betoog oor agterstallige studiegelde, inskrywingsfooie en die Nasionale Finansiëringshulpskema vir Studente (NSFAS) se bepaling dat studenteverblyf nie meer as R45 000 per jaar mag oorskry nie.
Dit lyk of universiteitsrade hande in die hare is en nie weet hoe om die situasie te ontlont of met studente te onderhandel nie. Om sake te vererger sien ’n mens nie die polisie wat geweld en plundering moet voorkom nie.
Natuurlik is daar nie eenvoudige antwoorde vir die dilemma nie, maar die skuld kan vierkantig op die skouers van die ANC-regering en sy minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, gepak word. Dit is die ANC wat arm mense met beloftes van gratis hoër onderwys bedwelm en hulle dan die rug toekeer as hulle dit met geweld vir opeis.
En in hierdie maalkolk van onrealistiese verwagtings en eise, is daar ’n groep studente wat ernstig oor tersiêre opleiding is, maar nou indirek gekeer word om klasse by te woon en onderrig te ontvang.
Die ander toneel in die land se strate wat die afgelope week waarskynlik skokgolwe deur die res van die wêreld stuur, is die geweld en intimidasie waaraan personeel van hospitale hulle skuldig gemaak het.
Lede van Nehawu neem landwyd aan ’n onwettige staking deel omdat hulle ’n 10%-salarisverhoging wil hê. Hospitale in Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat is die ergste ontwrig.
Talle dokters en pasiënte is in die proses toegang tot hospitale geweier en minstens vier pasiënte is weens die staking dood. In een geval het vakbondlede glo ’n ambulans by die Stanger-hospitaal aangeval en ’n kind wat in ’n kritieke toestand was uit die ambulans probeer ruk. Van die stakers het selfs duidelik te kenne gegee dat hulle nie omgee indien pasiënte weens die staking sterf nie. ’n Interdik is intussen teen die stakers bekom om hulle te verhoed om dokters en pasiënte toegang tot hospitale te weier.
Wanneer ’n mens tonele soos hierdie gadeslaan is dit met ’n gevoel van beklemming. Dit wys op ’n bevolking wat geen morele kompas meer het nie. Dit wys op ’n regering en polisiemag wat nie in staat is om onskuldige, selfs siek, landsburgers te beskerm nie. Dit wys op ’n staatshoof wat geheel en al beheer oor die land en sy mense verloor het.
En dit alles voorspel groter chaos en anargie in aanloop tot die 2024 nasionale verkiesing. Landsburgers kan hulle maar voorberei op nog baie meer protesoptogte, waarvan talle selfs gewelddadig gaan wees, want armoede, swak dienslewering, werkloosheid, korrupsie en ander magsvergrype het soveel mense tot op breekpunt gedryf. Hulle het ná 30 jaar genoeg van sukkel en leë beloftes gehad.
Terwyl Suid-Afrika hom by die krisispunt bevind, bly dit egter nog elke mens se eie verantwoordelikheid om te kies om die regte ding te doen. Geweld het nog nooit enige probleme opgelos nie. Vermy dit ten alle koste en moenie deur die negatiwiteit daarvan meegesleur word nie. Wanorde noop ’n mens om rasioneel te dink en in tye van geweld moet jy jou, jou geliefdes en gemeenskap se veiligheid eerste te stel.