|

Nuuskommentaar: Suid-Afrika en die Internasionale Strafhof-polemiek

Die ANC-regering laat skynbaar geen kans verbygaan om ’n verleentheid in die internasionale arena te skep nie. Die huidige polemiek oor Suid-Afrika se onttrekking, al dan nie, aan die Internasionale Strafhof, is die jongste in ’n baie lang lys van gebeure. Dit strek van diplomate wat hulle ernstig wangedra in die buiteland, tot die chaotiese verloop van die Belgiese koningspaar se besoek aan die land in Maart vanjaar.

Om die saak te verstaan, is dit nodig om meer te weet oor die Strafhof en Suid-Afrika se amptelike verhouding daarmee.

Mense verwar dikwels hierdie hof met die Internasionale Geregshof, ook bekend as die Wêreldhof. Laasgenoemde is in 1945 ingevolge die handves van die Verenigde Nasies (VN) gestig om vreedsame oplossings vir internasionale dispute tussen state te vind.

Die Internasionale Strafhof is ’n veel jonger instelling. Op 17 Julie 1998 het 120 state die Statuut van Rome aanvaar. Dit is ’n verdrag waarvolgens die Internasionale Strafhof tot stand gebring is en dit het op 1 Julie 2002 in werking getree. Die Strafhof is ’n internasionale tribunaal wat die jurisdiksie het om individue vir volksmoord, oorlogsmisdade en ander ernstige menseregteskendings te vervolg. Dit tree op wanneer applikante kan bewys dat alle regskanale in die betrokke land uitgeput is sonder dat geregtigheid geskied het.

Suid-Afrika was een van die 120 state wat die Statuut van Rome in 1998 onderteken het. Hierna moes die regering eers die ondertekening amptelik goedkeur en homself tot die bepalings daarin verbind. Hierdie proses staan bekend as die ratifikasie van die statuut. Op 27 November 2000 is die proses afgehandel met Suid-Afrika se indiening van bewyse van die ratifikasie.

Die land se verhouding met die hof was aanvanklik positief. Suid-Afrikaners soos adv. Shamila Batoi, die nasionale direkteur van openbare vervolgings, het termyne in diens van die Strafhof verrig.

Die verhouding het egter versuur in 2015 toe die omstrede Soedannese president, Omar al Bashir, Suid-Afrika besoek het. Die Strafhof het reeds in 2009 en 2010 lasbriewe vir sy arrestasie uitgereik. Dit was in verband met sy beweerde rol in ’n verskeidenheid van oorlogsmisdade. Omdat die Suid-Afrikaanse regering in terme van die Statuut van Rome verbind was tot die uitvoering van besluite van die hof, moes dit Al Bashir arresteer en uitlewer. Dit het egter nie geskied nie en terwyl regsaksie in Suid-Afrika aan die gang was om oor die land se verpligting te beslis, het die ANC toegelaat dat Al Bashir die land stilletjies verlaat.

Pres. Jacob Zuma het verder olie op die vuur gegooi deur aan te kondig dat die land aan die Strafhof onttrek. In antwoord het opposisiepartye hom herinner dat ’n staatshoof of politieke party nie die reg het om dit te doen nie, maar dat die parlement hieroor moet besluit. Die regering is ook in 2017 deur die Strafhof tot verantwoording geroep oor die versuim om Al Bashir te arresteer.

Ten spyte van regsaksie en openbare veroordeling, het die toenmalige minister van Buitelandse Sake, Lindiwe Sisulu, selfs in 2018 opnuut gedreig dat die land die Strafhof gaan verlaat. Tog het daar geen sprake gekom van ’n parlementêre besluit hieroor nie.

Die jongste polemiek het ontstaan toe die Strafhof op 17 Maart 2023 ’n lasbrief vir die arrestasie van pres. Vladimir Poetin van Rusland uitgereik het in verband met sy beweerde betrokkenheid by die onwettige deportasie van kinders uit Oekraine na Rusland. Die ANC het dit duidelik gemaak dat hulle Poetin nie sal arresteer as hy die land besoek nie.

Beide pres. Cyril Ramaphosa en Fikile Mbalula, die ANC se sekretaris-generaal, het daarna bevestig dat die ANC besluit het dat die Suid-Afrikaanse regering die Strafhof moet verlaat. Enkele ure na Ramaphosa hierdie besluit in die teenwoordigheid van die besoekende Finse president, Sauli Niinisto, bevestig het, het die Presidensie verklaar dat Ramaphosa ’n fout gemaak het en dat die land dus nie aan die hof onttrek nie. Ramaphosa self het dit as ’n kommunikasiefout afgemaak en verduidelik dat hy eintlik bedoel het dat die ANC meen dat dit wys sal wees om te onttrek.

Die gebeure laat Suid-Afrika met die spreekwoordelike eier op die gesig en groot vraagtekens oor wat sal gebeur indien Poetin Suid-Afrika besoek.

Wat Poetin se lot ook mag wees, dit is in die inwoners van die land en veral minderheidsgemeenskappe se belang dat Suid-Afrika deel van die Strafhof bly. Waar menseregtevergrype plaaslik toeneem en vrae soms oor die voortgesette onafhanklikheid van die land se howe gehoor word, is die Strafhof ’n belangrike afskrikmiddel vir menseregteskenders. Dit is die enigste internasionale instelling waardeur hulle werklik aanspreeklik gehou sal kan word as plaaslike regsremedies sou faal. Plaaslik en internasionaal is talle oë op die land gerig om te sien wat die uiteinde van hierdie uitgerekte twis gaan wees.

Soortgelyke plasings