|

Nuuskommentaar: Strenger hand nodig op onderwysgeldkoffer

Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, is nuut in haar pos en staar reuse-uitdagings in die gesig om die land se oorwegend wanfunksionele onderwysstelsel te probeer rehabiliteer. 

Een van die positiewe stappe wat sy reeds gedoen het, is dat sy die toekenning van ’n tender ter waarde van R10 miljard vir die voorsiening van voedsel aan skoolvoedingskemas voorlopig tot stilstand geroep het.

’n Versoek vir tenders vir hierdie kontrak is skynbaar reeds in Januarie vanjaar bekendgemaak in ’n poging om voedselvoorsiening aan skole te sentraliseer.

Die departement se pogings in die verlede om deur middel van wetgewing mag en funksies in die staat se hande te sentraliseer, en hulpbronne slegs aan enkele tenderpreneurs toe te ken, is een van die redes waarom organisasies soos AfriForum so sterk teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (oftewel die Bela-wetsontwerp) gekant is.

Hierdie reusevoedselvoorsieningstender hou groot risiko’s vir wanbesteding in. Boonop sal ’n gebrek aan dienslewering deur die suksesvolle aansoeker nie alleen finansiële nadele inhou nie, maar letterlik kinders tot wanvoeding of selfs die dood kan verdoem.

Voedingskemas gaan al jare lank gebuk onder korrupsie. In 2013 het die organisasie Corruption Watch reeds verslae hieroor uitgereik. In provinsies soos die Oos-Kaap is skemas al opgeskort terwyl ondersoeke na wanbesteding voortgesloer het. Verlede jaar het die Spesiale Ondersoekeenheid weer bewerings van korrupsie ter waarde van R2.4 miljard rakende die voedingskema in KwaZulu-Natal ondersoek ná klagtes ontvang is van bedorwe voedsel wat voorsien is, of aflewerings wat nooit plaasgevind het nie.

Met Gwarube se intrede sal daar hopelik nou strenger keuring plaasvind en opnuut na alternatiewe vir spanderingsentralisasie gesoek word.

Van die beste oplossings vir voedselhulp aan leerders wat AfriForum al gesien het, is skole met groentetuine waar werklose ouers en lede van die gemeenskap saam inspring om vir hulpbehoewende kinders voedsame etes te voorsien. Gemeenskapsoplossings soos hierdie sal skole veel meer baat as die verryking van nasionale diensverskaffers.

Die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente se hantering van begrotings skep ook al jare lank kommer. Suid-Afrika is een van die lande wat die grootste persentasie van sy begroting aan onderwys bestee. In die huidige finansiële jaar bedra dit R480.6 miljard, waarvan R303 miljard spesifiek aan die departement van Basiese Onderwys toegeken is. Tog presteer die land uiters swak in internasionale peilings wat onder meer leesvermoë, syfergeletterdheid en veiligheid op skoolterreine in verskeie lande ondersoek.

Verantwoordbaarheid vir wanbesteding bly ’n enorme uitdaging en ’n toets wat omvangryke eise aan Gwarube gaan stel.

Nog ’n groot knelpunt, is die plasing van leerders in skole. In al nege provinsies is die verskoning vir kinders wat nie plek kry nie, of in oorvol klaskamers beland, dat die onderwysdepartemente nie geld het om meer infrastruktuur te ontwikkel nie. Dit is daarom verrassend om vandeesweek in die media te verneem dat Mpumalanga se onderwysdepartement in die vorige finansiële jaar nagelaat het om R312 miljoen wat vir infrastruktuurontwikkeling geoormerk was, te spandeer. Nog erger is dat die departement se woordvoerder, Gerald Sambo, die gebrek aan spandering ontken en beweer dat die volle bedrag wat vir dié doel ontvang is, wel bestee is.

Met verskille oor besteding op hierdie skaal, is Gwarube se ingryping in ten minste een tenderproses welkom en word gehoop dat dit maar ’n eerste van vele soortgelyke stappe sal wees.

Soortgelyke plasings