|

Nuuskommentaar: Sedibeng bankrot, maar burgemeester blaas R700 000 op nuwe ampsmotor

Bankrot munisipaliteite in Suid-Afrika, veral op kleiner dorpe, is nie juis meer nuus nie. Daar is ook dikwels uitgawes wat hierdie munisipaliteite aangaan wat ’n mens laat wonder of die mense wat die besluite neem enigsins in voeling is met watter uitdagings gewone landsburgers elke dag moet oorkom net om kop bo water te hou. Dienslewering ly onder wanbestuur en keuses van amptenare wat eerder luuks wil lewe as behoorlik dienste lewer aan die mense wat hulle verkies het.

Lerato Maloka, uitvoerende burgemeester van die bankrot Sedibeng-distrikmunisipaliteit, gaan ’n nuwe ampsmotor van nagenoeg R700 000 kry. Dit nieteenstaande dat sy ook in 2022 ’n nuwe Mercedes ampsmotor van soortgelyke waarde gekry het nie. Blykbaar is dié Mercedes in elk geval min gebruik omdat dit nie aan Maloka se “spesifikasies” voldoen het nie en sy nooit daarmee gelukkig was nie. Tog is nog amper R30 000 op dié kar uitgegee om dit met viniel in swart oor te trek.

’n Vreemde vloeistof, blykbaar suikerwater, het op raaiselagtige wyse in die Mercedes se brandstoftenk beland en dit erg beskadig. Hoe erg? Wel, die herstelkoste van die enjin het bykans R400 000 beloop.  En steeds is dit nie einde nie aangesien daar ’n verdere R140 000 oor ’n periode van drie jaar aan huurmotors spandeer is om die burgemeester te vervoer, want onthou die Mercedes het nie aan haar “spesifikasies” voldoen nie.

Soos genoem gaan Sedibeng, wat dienste aan onder meer Vereeniging, Vanderbijlpark, Meyerton en Heidelberg lewer, gebuk onder geweldige finansiële druk. Probleme wat ’n daaglikse realiteit op van die dorpe geword het, is slaggate, onvoldoende sanitasie met rou riool wat in strate vloei en lekkende waterpype.

Volgens die DA moet Maloka ook verduidelik wat van die burgemeester se ketting geword het. Hulle sê dié ketting het verlede jaar spoorloos ná die distriksrede op 23 Junie verdwyn. ’n Saak van diefstal is eers op 12 November geopen vir die besonderse item wat meer as R400 000 werd is. Die DA meen dis uiters verdag dat die saak nie vroeër al geopen is nie.

Daar was reeds uit verskeie oorde kritiek oor Maloka se luukse lewenstyl ten koste van dienslewering aan belastingbetalers, maar dit lyk nie of sy haar eintlik hieraan steur nie. ’n Mens kan net hoop dat meer mense in Sedibeng en die res van die land, tot hul sinne sal kom en hul kruisies by vanjaar se verkiesing by ’n ander party sal trek wat wel ernstig oor dienslewering en die belange van hul kiesers is.

Munisipaliteite kan ook soos die Tshwane-metro hierdie week gedoen het erken hulle het hulp nodig en ooreenkomste met ander organisasies aangaan om meer gedoen te kry. Die Tshwane-metro het ’n memorandum van verstandhouding met AfriForum aangegaan wat laasgenoemde meer vryheid sal bied om met hul buurtspanne slaggate te herstel, gras te sny en parke skoon te maak.

Soortgelyke plasings