|

Nuuskommentaar: Regter Khampepe, Charlize en die toekoms van Afrikaans

Vrouemaand is verby, maar dit lyk asof die afgelope week vir Afrikaans Vroueweek was, want vrouens en Afrikaans was heeltyd in die nuus.

Eers was daar regter Sisi Khampepe wat met haar verslag oor rassisme by die Universiteit van Stellenbosch nuwe definisie gegee het aan die spreekwoord dat jy nie die baba met die badwater moet uitgooi nie.

Die troebel water wat die gevolg van enkele individue se swak gedrag was, is deur haar geskilder as ’n onomstootlike bewys van ’n rassisme-krisis by dié instelling. Hierdie gevolgtrekking is bereik met behulp van insette van 0.2% van die mense wat direk by die universiteit betrokke is, plus vyf deskundige getuies, waarvan vier in diens van die universiteit en een ’n buitestaander is.

Een getuie gee toe dat Afrikaans uit formele gesprekke uitgedryf is, maar selfs as hy dit in informele situasies hoor, laat dit hom ongemaklik voel. Hy wonder glad nie hoe gemaklik die Afrikaanssprekendes in die formele situasies voel wanneer hulle slegs Engels hoor nie.

Die regter se slotsom is dat Afrikaanssprekendes ’n reg tot Afrikaanse onderrig het, maar net as dit niemand uitgesluit laat voel nie. Die universiteitsbestuur beloof om dadelik aandag aan die aanbevelings te gee, in plaas daarvan om ’n objektiewe, volwasse gesprek oor taalregte te voer.

Intussen gons dit oor Charlize Theron se “44 Afrikaanssprekendes”-uitlating. Dit het gesorg vir skreeusnaakse memes, maar ook vir groot mediabelangstelling in die taal.

Charlize is ’n tipiese voorbeeld van ’n immigrant wat ten volle geassimileer het in haar nuwe tuiste. Dat die opmerking ’n grap in swak smaak was, is waar, maar hoef ons hieroor wakker te lê? Nee, net so min as wat Afrikaans haar huidige loopbaan kan raak, kan haar kommentaar die toekoms van die taal raak. Veel eerder kan ons erkenning gee aan akteurs soos Arnold Vosloo en Neil Sandilands wat sukses in Hollywood behaal het, trots op hulle taal bly en steeds tot die Afrikaanse vermaakindustrie bydra.

Ons moet eerder wakkerlê oor die taalstandpunte van besluitnemers wat wel ’n invloed kan uitoefen op die toekoms van Afrikaans. Dit sluit die parlementêre besluitnemers in wat moet besin oor die Bela-onderwyswetsontwerp. Van hulle huldig dieselfde mening as prof. Thabo Ditsele in sy kommentaar vir News24 oor Charlize se uitlating. Hy skryf dat daar: “… ’n buitensporige aantal Afrikaansmedium openbare skole in gebiede is waarheen swart middelklasgesinne verhuis het. Hulle vra dat ’n bietjie ruimte vir hul kinders geskep word. Wat hulle kry, is egter ’n terugkap van die oorspronklike inwoners wat daarop aandring dat sulke skole Afrikaans moet bly … Suid-Afrikaners moet betrokke raak by die deel van ruimte en hulpbronne”.

Prof. Ditsele moet dalk besef van die skole is propvol Afrikaanse kinders, so daar is nie ruimte of hulpbronne om te deel nie. Daar beter die staat begin hulpbronne deel, want jy en ek betaal ons swaarverdiende belastinggeld aan hulle om vir voldoende skole te sorg. As die skole egter nie vol is nie, het hulle reeds ’n dubbel- of parallelmedium Engelse baan beskikbaar en dan is bewerings soos hierdie ’n wanvoorstelling.

Taal kan brûe bou of vernietigende vyandskap veroorsaak. Die reaksie op regter Khampepe en Charlize se uitlatings bewys dat Afrikaanssprekendes wil sien dat hulle taal gerespekteer word, en dit geld trouens vir alle tale. In Suidoos-Asië word taalregte bevorder om vrede te maak, in die oorlog in Oekraïene speel taalregtevergrype aan beide kante ’n sentrale rol. Hopelik kan ons leer uit die voorbeelde en eerder ’n volhoubare toekoms vir meer tale skep, as om Afrikaans heeltyd te probeer aftakel.

Soortgelyke plasings