|

Nuuskommentaar: Regering se voorgestelde rasgedrewe fonds ’n potensiële doodsteek vir ondernemings in SA

AfriForum is sterk gekant teen Parks Tau, minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, se voorgestelde rasgedrewe fonds, wat eksklusief swart ondernemings sal help met lenings, skuldverligting en toelaes en uit die privaat sektor gefinansier moet word.

Privaat ondernemings sal bo en behalwe al die regulasies waaraan hulle reeds moet voldoen ’n verdere 3% van hul netto wins vir die transformasiefonds van R100 miljard opsy moet sit, of die risiko loop om met groot somme geld beboet te word en van moontlike regeringskontrakte en -tenders uitgesluit te word. Hierdie fondse sal volgens Tau aangewend word om programme wat ekonomiese groei en werkskepping bevorder, te finansier – doelwitte waaraan ondernemings jaarliks reeds R25 miljard bestee.

Die nuwe voorgestelde transformasiefonds klink nogal baie na die Covid 19-fonds wat tydens die pandemie op die been gebring is. Dié fonds was ook daarop gemik om swart ondernemings by te staan, terwyl ander ondernemings aan hul eie lot oorgelaat is ongeag daarvan dat dit juis drakoniese regeringsbeleide was wat in daardie stadium tot die ondergang van verskeie kleiner ondernemings gelei het.

Berigte van korrupsie en wanbesteding vanuit die Covid 19-fonds en ander vorme van vermorsing van belastingbetalers se geld tydens die Covid 19-pandemie het omtrent daagliks die lig gesien. As daar nie honderde miljoene rande spandeer is om leë skole te ontsmet nie, is tydelike hospitale ten duurste toegerus en nooit gebruik nie. Die vraag is dan hoe die voorgestelde transformasiefonds enigsins anders bestuur sal word?

Tau was in sy tyd as burgemeester van die Johannesburg-metro in die nuus toe sy vrou glo ’n aandeel van ongeveer R10 miljoen in ’n swartbemagtigingskontrak gekry het wat voortgespruit het uit die bestuur van ’n R2 miljard-aanspreeklikheidsfonds van dié metro. Tau was die LUR vir Finansies ten tye van die toekenning van dié kontrak.

’n Verdere kommerwekkende komponent van die transformasiefondsplan is dat multinasionale ondernemings se bydraes tot die fonds selfs groter sal wees en dat hierdie ondernemings soveel as 25% van hul Suid-Afrikaanse belange wat vir transformasiedoeleindes opsy sal moet sit. Tau sê dat die fonds moet help om werkloosheid, armoede en ongelykheid te takel. Dit kan egter juis tot die teenoorgestelde lei soos wat privaat ondernemings doodgewurg word en werkers moet afdank. So ook sal al hoe minder buitelandse maatskappye kans sien om in Suid-Afrika te belê en dus hul bedrywighede na ander lande verskuif waar hulle met ope arms en sonder belaglike wetgewing ontvang sal word.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is nog belasting op ondernemings wat reeds swaartrek die laaste ding wat die Suid-Afrikaanse ekonomie nodig het. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het op X gesê ondernemings van Suid-Afrika moet opstaan, want die staat gaan hulle versmoor. Hy voer ook aan dat net hierdie ondernemings die “staatsboelie” kan stop. Voorts sê hy die regering maak die aanname dat swart ondernemings nie in staat is om self finansiële voorspoed te kweek nie.

Ongelukkig is dit ook so dat die regering al telkens belaglike idees probeer uitvoer het. Dink maar aan die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat nog soos ’n swaard oor die land hang. Dis onbekostigbaar en onwerkbaar, maar die regering stoom steeds voort daarmee.

Die gevolgtrekking is dat die regering na alle waarskynlikheid wel met die tranformasiefonds sal probeer voortgaan en dat ondernemings en ander landsburgers nou móét saamstaan om dit stop te sit voor nóg miljarde rande vermors word.

Klik hier om saam met AfriForum standpunt teen die transformasiefonds in te neem.

Soortgelyke plasings